Central SA
Van Noord-Kaap na Nieu-Seeland: ’n Nuwe lewe… vol verlang─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:04 Fri, 16 Oct 2026
Vir ’n Noord-Kaapse egpaar het die besluit om Suid-Afrika te verlaat oor meer as net nuwe geleenthede gegaan.
Ná verskeie veiligheidsvoorvalle het Natasha (32) en William (36) Fraser gevoel dit is tyd om elders ’n nuwe lewe te begin. Byna drie jaar later geniet die Frasers hul nuwe tuiste in Nieu-Seeland, maar daar is steeds dinge van Suid-Afrika wat hulle nie sommer kan agterlaat nie.
Ná jare in Kuruman het die egpaar in Januarie 2024 die groot stap gedoen om na Wellington in Nieu-Seeland te verhuis. Hulle het gehoop op ’n lewe waar hulle veiliger kon voel en nuwe geleenthede kon aangryp.
Vandag werk albei voltyds en gebruik hulle hul naweke om die land te verken. Tog het hulle ook ontdek dat ’n nuwe begin nie beteken dat alles noodwendig makliker word nie.

Veiligheid is een van die redes waarom die Frasers die besluit geneem het. Foto verskaf
Die besluit om te emigreer het nie oornag gekom nie. Verskeie inbrake en pogings tot inbraak het hul gevoel van veiligheid mettertyd ondermyn. Vir Natasha was daar egter ’n spesifieke ervaring in die verkeer wat haar laat besef het iets moet verander.
“Ek as vrou was nog altyd oorversigtig en sou nooit met deure ry wat nie gesluit is nie, maar ná die sewende keer wat ek in die verkeer deur diewe omring was en hulle aan my deure geruk en aan my vensters gehamer het, kon ek dit nie meer uitstaan nie.
“Ons het daardie dag besef dat ons nie meer veilig hier is nie.”

Hoewel die egpaar dankbaar is vir die geleentheid, was daar baie aanpassings. Foto verskaf
Om in ’n ander land oor te begin, bring natuurlik sy eie aanpassings mee. Hoewel die inwoners vriendelik is, was dit nie noodwendig maklik om nuwe vriende te maak nie.
“Baie ekspats sal sê: ‘New Zealanders are friendly but not always keen to be friends’,” sê sy.
Daar is baie wat die egpaar in hul nuwe tuiste waardeer. Die gevoel van veiligheid en vryheid is vir hulle ’n groot pluspunt, terwyl Nieu-Seeland se natuurskoon hulle genoeg geleenthede bied om in hul vrye tyd nuwe plekke te ontdek.
Nie goedkoper of makliker
Maar die lewe daar is nie noodwendig op elke vlak goedkoper of makliker nie. Volgens Natasha hang dit grootliks van ’n mens se omstandighede af, insluitend jou inkomste, werksgeleenthede en gesinsamestelling.
As ’n getroude paartjie sonder kinders kom hulle gemaklik oor die weg, maar sy besef groter gesinne met dieselfde inkomste kan dalk ’n heel ander ervaring hê.
Selfs gewone inkopies kan soms ’n verrassing wees, veral wanneer sekere produkte buite seisoen duur raak. “Ons eet net geblikte tamaties gedurende die winter!” sê sy.

Die egpaar is al amper vyf jaar getroud. Foto verskaf
Hoewel Natasha en William hul nuwe lewe geniet, is daar ook dae wanneer Suid-Afrika ver voel. Hulle mis veral familie en vriende, en dit is nie altyd maklik om belangrike oomblikke tuis van ver af saam te beleef nie.
Natasha sê hulle ervaar soms ook skuldgevoelens omdat hulle nie daar kan wees wanneer iets besonders gebeur nie.
En dan is daar Desember. “Ke Dezemba! Dit is waarlik ’n gevoel. ’n Vibe. ’n Maand van bier en braai en Mosselbaai. En ’n mens kry nie sommer daardie atmosfeer in Nieu-Seeland nie.”

Die mis ná jou land en mense is 'n realiteit. Foto verskaf
Sy verlang ook na Suid-Afrika se warm somers. Die weer in Nieu-Seeland kan onvoorspelbaar wees, en die egpaar woon boonop in wat Natasha beskryf as die winderigste stad ter wêreld.
Dit is juis hierdie klein, alledaagse dinge wat ’n mens soms eers behoorlik waardeer wanneer jy dit nie meer elke dag beleef nie.
Vir Suid-Afrikaners wat dit oorweeg om na Nieu-Seeland te verhuis, het Natasha ’n eenvoudige boodskap: Doen jou huiswerk en beplan so ver moontlik vooruit.
Proses verg tyd en moeite
Die immigrasieproses was volgens haar nie noodwendig ingewikkeld nie, maar dit het tyd en heelwat dokumentasie geverg. Hulle moes onder meer polisieverklarings bekom, bewys van hul verhouding lewer en verskeie dokumente aanlyn invul.
Dat ’n groot deel van die proses aanlyn afgehandel kon word en dat hulp beskikbaar was, het dit makliker gemaak. Natasha meen dit bly nietemin belangrik om vooraf seker te maak dat jy verstaan wat van jou verwag word.
Sy raai mense ook aan om, indien moontlik, reeds werk te hê voordat hulle vertrek. “Wees seker van jou saak. Dit is werklik moeilik en ’n mens se hart verlang terug na jou land en mense. Maak seker jy het ’n werk voordat jy oorkom, want dit kan soms moeilik wees om jou voet in die deur te kry.”
Ondanks die uitdagings het Natasha min twyfel oor wat hulle sou doen indien hulle weer voor dieselfde omstandighede te staan sou kom.
“As ek nie die dinge ervaar het wat ek het nie, sou ek seker nie gekom het nie, maar as my ervarings dieselfde was, sou my besluit dieselfde bly. ’n Mens kan ook net so lank in vrees lewe,” sê sy.
Die egpaar het nie ’n vaste tydlyn vir hul toekoms nie en sluit nie die moontlikheid uit om eendag na Suid-Afrika terug te keer nie. Dit was van meet af deel van hul planne, maar die omstandighede sal reg moet wees voordat hulle dié stap oorweeg. Vir nou bou hulle hul lewe verder in Nieu-Seeland.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

