Central SA
Breinvliesontsteking: Douglas treur oor Adrian (19) se skielike dood─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:58 Fri, 16 Oct 2026
’n Jong inwoner van Douglas, wat onverwags aan breinvliesontsteking oorlede is, word onthou as ’n “stil, pligsgetroue en hardwerkende jong mens” wat ’n blywende indruk op sy skoolgemeenskap en die mense om hom gelaat het.
Adrian Janse van Rensburg (19) is Woensdagmiddag (14/10) oorlede nadat hy die oggend in die hospitaal opgeneem is. Hy het verlede jaar aan Hoërskool Douglas gematrikuleer en het onder meer in die leerlingraad gedien.
Sy voormalige onderwyser Obie Vermeulen onthou hom as ’n pligsgetroue en hardwerkende leerling. “Adrian was ’n stil leier, maar het ’n groot impak gemaak. Hy was ’n besonder oulike kind.”
Sarita, sy ma, sê hy was ’n introvert wat nie daarvan gehou het om tussen groot groepe mense te wees nie, maar diep bande met sy vriende gevorm het.

Adrian en sy ma, Sarita. Foto verskaf
Sy skoolvriende onthou hom as ’n sagmoedig reuse – stil en op sy plek, maar altyd oplettend terwyl hy baie van sy omgewing waargeneem het.
Adrian was ook ’n bekende gesig by die NG kerk Douglas, waar hy sy ma, die gemeentebestuurder, gereeld gehelp het. Hy het as afloskoster opgetree en tydens kerkbasare hand bygesit.
Sy hulpvaardigheid het ’n blywende indruk op talle mense in Douglas gemaak, wat steeds na hom vra en sy afwesigheid raaksien.

Adrian en sy broer, John-Philip, het 'n hegte band gehad. Foto verskaf
Sarita sê haar seun was ook baie presies en georganiseerd. Hy was altyd netjies en betyds en wou graag vooraf weet wat die dag se planne behels.
“Selfs eenvoudige uitstappies moes vir hom ’n duidelike plan hê. Hoewel hy en sy broer, John-Philip, mekaar dikwels geterg het, was hulle baie lief vir mekaar.
“Hy het elke oggend vir hom ’n boodskap gestuur om hom ’n goeie dag toe te wens – een van die klein, alledaagse gebare wat sy familie nou des te meer sal koester.”

Adrian en sy pa, John. Foto verskaf
Dit is juis hierdie klein, alledaagse dinge in die huis, en die herinneringe aan sy hulpvaardigheid en stille teenwoordigheid, wat Sarita voortdurend sal bybly.
“Hoewel hy nie iemand was wat homself in die middelpunt geplaas het nie, het sy lewe ’n groter invloed op ander gehad as wat sy familie soms besef het.”
Hy word ook oorleef deur sy pa, John. Geen begrafnisreëlings is nog bekend nie.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.
