On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Loslopende leeu opgespoor; eienaar steeds onbekend

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:22 Fri, 16 Oct 2026

Loslopende leeu opgespoor; eienaar steeds onbekend | News Article
Die leeu wat in die Vaaldriehoek gekry is. Foto: Ithumeleng Mobadi/Vaalweekblad

Dit bly ’n raaisel wie die eienaar is van die leeu wat aangekeer is nadat dit vroeër die week in die Vaaldriehoek se Redan-omgewing gesien is.

Die polisie het Donderdag (16/10) bevestig die dier is opgespoor en die nodige reëlings word deur kundiges getref om hom veilig te hervestig. Die polisie is Dinsdag (13/10) omstreeks 04:00 deur ’n lid van die polisie se honde-eenheid in kennis gestel van ’n sosialemediaplasing waarin beweer is dat ’n leeu in ’n afgeleë gebied rondloop.

OFM Nuus het vroeër berig ’n soektog is Woensdagoggend (14/10) begin na die groot kat. Dit is steeds onseker waar die dier vandaan gekom het. MEI Solutions het intussen veiligheidsmaatreëls uitgereik en inwoners en motoriste in die Meyerton-, Redan- en R59-gebied gevra om daaraan gehoor te gee.

'Hy het besef die dier is groter'

Ithumeleng Mobadi, die veiligheidswag wat die dier na bewering eerste opgemerk het, Ithumeleng Mobadi, het aan Vaalweekblad vertel dat hy tydens ’n patrollie op die leeu afgekom het.

Mobadi was onderweg vanaf ’n boorgat toe hy vreemde geluide naby ’n paal aan die oostekant van Redan gehoor het. Hy het stilgehou en sy selfoon se flitslig gebruik om te probeer vasstel wat die geluid veroorsaak.

Hy het aanvanklik vermoed dit is ’n kat, maar het besef die dier is aansienlik groter toe hy die lig daarop geskyn het. Hy kon ’n foto neem voordat die leeu in ’n suidelike rigting weggehardloop het.

Hy sê die voorval het hom groot laat skrik. Bloufontein Wildlife Park het intussen bevestig die leeu behoort nie aan die park nie. Die bestuur sê al die diere is nagegaan en geen leeus of ander diere word vermis nie.

Die polisie het ook kommer uitgespreek oor die verspreiding van vals en onbevestigde inligting op sosiale media, wat volgens hulle onnodige paniek onder die publiek veroorsaak het.

OFM Nuuscvs dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.