Central SA
Noord-Kaapse polisie soek hulp om beweerde verkragter op te spoor─── CHARNÉ VAN DER MERWE 06:47 Sat, 17 Oct 2026
Die Noord-Kaapse polisie doen ’n beroep op die publiek om te help om ’n man te vind wat na bewering ’n vrou in Kimberley verkrag het.
Die Galeshewe-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) hanteer die ondersoek. “Die man het na bewering ’n vrou (22) op 27 September in Mokgoro-straat verkrag,” sê ao. Molefi Shemane, provinsiale polisiewoordvoerder.
Die vrou was tussen 10:00 en 12:00 op pad na ’n snoepwinkel in Mokgorostraat toe die man haar genader het. “Hy het hom glo as Mpho voorgestel en haar gevra om hom na ’n ander snoepwinkel in Seochoring te vergesel. Met hul terugkeer het hy haar na bewering in ’n gang in Mokgorostraat verkrag.”
Die polisie glo die verdagte kan moontlik ’n tienerseun wees. Hy is skraal, met ’n ligte vel, donkerbruin oë en praat Setswana. Hy was geklee in ’n gestreepte T-hemp en kortbroek.
Enigiemand met inligting wat kan help om hom op te spoor, kan speur-adjudant-offisier Du Plessis by 082 495 4605 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel. Anonieme wenke kan ook vanaf ’n slimfoon deur die MySAPS-app gestuur word. Alle inligting sal as vertroulik beskou word.
Verkragtingsyfers
Volgens die jongste misdaadstatistieke is meer as 9 000 verkragtingsake in die eerste kwartaal in Suid-Afrika aangemeld. Altesaam 9 201 verkragtingsake is landwyd tussen April en Junie aangemeld, terwyl 8 814 sake waarby vroue en kinders betrokke was, in dieselfde tydperk aangeteken is. Die syfers is op 28 Augustus bekend gemaak.
In die Noord-Kaap is 284 verkragtingsake in dié drie maande aangemeld. Die landwye totaal verteenwoordig ’n afname van 32 sake vergeleke met die ooreenstemmende tydperk in 2025.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

