On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Kiesers eis verandering by stembusse in Kimberley

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:33 Wed, 04 Nov 2026

Kiesers eis verandering by stembusse in Kimberley | News Article
Kiesers wat hul beurt af by die stemlokaal by Kimberley Junior Primêre Skool. Foto: Charne van der Merwe

Inwoners van Kimberley praat vandag uit een mond: Hulle wil beter dienslewering, veiliger woonbuurte en sigbare verbeterings aan hul stad sien.

Terwyl kiesers hul kruisies trek, wentel gesprekke by stemlokale hoofsaaklik om vervalle infrastruktuur, slaggate en die toestand van die stad. Vir baie inwoners is die verkiesing ’n geleentheid om hul ontevredenheid oor plaaslike uitdagings uit te spreek en hoop vir verandering te toon.

Johané Pieterse, wat al 18 jaar in Kimberley woon, sê die stad se infrastruktuur is een van sy grootste bekommernisse. Volgens haar is daar op baie plekke rommel langs die paaie, terwyl slaggate en 'n gebrek aan veiligheid in die middedorp inwoners daagliks raak.

“Dit is beslis een van die grootste probleme wat dringend aangepak moet word,” sê sy.

Johané en Janine Pieterse gereed om te stem. Foto: Charne van der Merwe

Pieterse glo ook dit is belangrik dat inwoners hul stemreg gebruik. “As jy nie stem nie, gaan daar nie 'n verskil wees nie. Daarom is dit belangrik dat mense hul stem laat hoor.”

Janine Pieterse deel dié sentiment. Sy sê sy het gaan stem omdat sy glo dat inwoners saam ’n verskil kan maak.

“Ek voel dit is nie reg om te kla en al die probleme uit te wys as jy nie bereid is om jou stem te gebruik en aan die verkiesing deel te neem nie.”

Sy hoop dat die verkiesing tot tasbare verbeterings in die komende jare sal lei.

Roland Kader en sy gesin, Shereen, Megan en Madison, en Mason (voor). Foto: Charne van der Merwe

Vir die 74-jarige Ellie Ross, wat haar hele lewe lank in Kimberley woon, is die prioriteite eenvoudig. “Ek wil hê hulle moet die slaggate regmaak en die rommel optel. Dis so vuil,” sê sy.

Ross meen inwoners wil meer sigbare bewyse sien dat die plaaslike owerheid werk maak van probleme.

Roland Kader van La Rochelle in die stad stem saam en sê die toestand van woonbuurtpaaie moet dringend aandag kry. “Laat hulle hierdie paaie regmaak, en nie net die hoofpaaie nie, maar die paaie in die woonbuurte ook. Dis wat ek wil hê.”

Die boodskap van kiesers is duidelik: Minder beloftes en meer daadwerklike optrede om die stad se verval te keer.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.