Central SA
Verhoor teen Bloemfonteinse sakevrou vertraag ná prokureur onttrek─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:50 Thu, 05 Nov 2026
Die prokureur van ’n Bloemfonteinse sakevrou wat na bewering haar werknemer aangerand het, het aan die saak onttrek.
Franzelle Venter, eienaar van Pienk Framboos, het Donderdagoggend (5/11) in die Bloemfonteinse landdroshof voorgekom op ’n aanklag van aanranding. Die saak is tot Woensdag (11/11) uitgestel sodat sy regshulp kan bekom.
Na verneem word, het Teneal van Deventer van Horn & Van Rensburg Prokureurs weens wanbetaling as haar regsverteenwoordiger onttrek. Nadat ’n moontlike skikking op 17 September buite die hof tussen Venter en die klaer, Dipao Moreng, nie geslaag het nie, sou die verhoor na verwagting Donderdag begin het.
Moreng beweer Venter het haar op 24 Oktober verlede jaar by haar woning in Fichardtpark aangerand en tydens die rusie teen ’n sleepwa gedruk en gewurg nadat sy die perseel wou verlaat. Sy beweer sy het krapmerke aan die linkerkant van haar nek en op haar bors opgedoen. Sy is ook glo sedert die voorval werkloos.
Die aanklag is egter vroeër op Moreng se versoek teruggetrek. Die hof het op 9 Julie gelas dat Venter ’n Nicro-evaluering ondergaan. Die staat het destyds die evaluering versoek weens die erns van die bewerings teen haar.

Franzelle Venter. Foto: Facebook
Venter het op 14 Julie in die hof verskyn vir ’n formele Nicro-assessering, maar ná oorlegpleging met die staat het Moreng besluit om die saak voort te sit.
Sy het toe buite die hof gesê Venter het nie die ooreenkoms nagekom om haar te betaal nie. Daar was glo ook onderhandelinge tussen die partye oor ’n moontlike skikking buite die hof.
Sy hou vol sy het nie besluit om die saak te heropen omdat Venter haar geld skuld nie, maar omdat sy voel die feit dat Venter haar nie betaal het nie, wys dat sy steeds nie verantwoordelikheid vir haar optrede aanvaar of spyt daaroor is nie.
“Ek het besluit om voort te gaan omdat sy my aangerand het. Niemand het haar die toestemming gegee om aan my te raak nie.”
Venter is aanvanklik van poging tot moord aangekla, maar die aanklag is verander na aanranding.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

