Central SA
‘Moenie wetsgehoorsame burgers ontwapen nie’ – eis ná Noordwes-plaasvalle─── 11:10 Fri, 06 Nov 2026
Die regering moet planne laat vaar om selfverdediging as rede vir ’n vuurwapenlisensie te skrap, eis ’n burgerregteorganisasie ná drie gewelddadige plaasaanvalle in Noordwes binne minder as ’n maand.
Civil Society South Africa (CSSA) vra dat die hersiene landelikeveiligheidstrategie vroeër ingestel en behoorlik befonds word. Die organisasie sê gesinne op afgeleë plase kan nie altyd op vinnige polisiebystand staatmaak nie en behoort vuurwapens wettig vir selfverdediging te kan lisensieer.
CSSA verwys na die aanval Sondagaand (1 November) op Les Brett en sy vrou, Natasha, op hul wildsplaas by Broederstroom naby Hartbeespoort. Drie gemaskerde mans het hulle na bewering ure lank aangehou en aangerand voordat hulle met sewe gelisensieerde vuurwapens en ander besittings gevlug het.
Vier dae tevore, op 28 Oktober, is die beesboer Donovan Marx (50) op sy plaas naby Ventersdorp geskiet, gesteek en ernstig vermink. Hy ontvang steeds mediese behandeling. Vier mans wat in verband met die aanval aangekla word, moet op 13 November weer in die hof verskyn.
Die derde voorval was die moord op Hannetjie van Zyl (55), wat op 5 Oktober by haar plaashek buite Ottosdal aangeval is. CSSA sê die aanvalle wys hoe gevaarlik omstandighede vir landelike inwoners kan word wanneer hulp ver is en reaksietye lank is.
Wysigingswetsontwerp op Beheer van Vuurwapens
Reece Clark, CSSA-woordvoerder, sê die regering kan nie plattelandse inwoners aan geweld blootstel en terselfdertyd hul geleentheid beperk om wettige voorsorg te tref nie. Hy eis dat selfverdediging ingevolge art. 13 van die Wet op Beheer van Vuurwapens as geldige lisensiegrond behoue bly.
Die omstrede Wysigingswetsontwerp op Beheer van Vuurwapens is nog nie wet nie. ’n Vorige konsep het voorgestel dat selfverdediging as lisensiegrond geskrap word; enige nuwe weergawe moet nog deur die formele wetgewende proses gaan. CSSA dring daarop aan dat dié voorstel laat vaar word.
Sedert Julie het CSSA ses aansoeke ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting ingedien. Die organisasie soek navorsing, misdaadsyfers, regsadvies en impakbepalings waarop die voorgestelde wysigings berus. CSSA sê die meeste aansoeke se ontvangs is erken, maar geen volledige antwoorde is ontvang nie.
’Gesteelde uurwapens kan moontlik weer in misdaad gebruik word’
Die organisasie eis ’n begroting en tydlyne vir die hersiene Landelike Veiligheidstrategie, wat volgens sy verklaring eers op 1 April volgende jaar in werking sal tree. Voorts vra dit beter toegeruste polisiekantore, korter reaksietye en groter pogings om gesteelde vuurwapens op te spoor.
CSSA verwys na parlementêre bevindings dat slegs 40% van die polisie se landelike voertuie vir die terrein geskik is. Dit wys ook op vuurwapens wat tydens plaasaanvalle gesteel word en moontlik weer in misdaad gebruik kan word.
Oor die omvang van plaasmoorde haal CSSA verskillende syfers aan: TLU SA het volgens die organisasie reeds 27 teen 7 Oktober aangeteken, teenoor die polisie se een vir April tot Junie. Die instellings gebruik verskillende omskrywings en tydperke.
Die staat moet misdadigers en onwettige wapens teiken eerder as wetsgehoorsame burgers, sê Clark. CSSA beplan om ontbrekende dokumente verder deur die Inligtingsreguleerder of howe aan te vra en nooi die publiek om sy formele voorlegging te ondersteun.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427


