Central SA
Kieshof verwerp Vrystaat-kandidaat se beswaar oor stembrief─── 12:57 Fri, 06 Nov 2026
Die Verkiesingskommissie hoef nie stembriewe vir individuele onafhanklike kandidate aan te pas bloot omdat hulle nie met die standaarduitleg saamstem nie, het die Verkiesingshof beslis.
Die uitspraak bevestig die kommissie se bevoegdheid om stembriefontwerpe te bepaal, mits dié besluite wettig, rasioneel en grondwetlik is. Dit beklemtoon ook dat verkiesingsgeskille betyds aanhangig gemaak moet word om ontwrigting van die verkiesingsproses te voorkom.
Die hof het die aansoek van André Dawid Lötter, onafhanklike kandidaat in wyk 13 van die Setsoto-munisipaliteit in die Vrystaat, van die hand gewys. Hy wou hê die afkorting “IND”, wat onafhanklike kandidaat beteken, moet langs sy naam op die stembrief verwyder word.
Lötter het aangevoer dat die afkorting kiesers kon verwar en het gevra dat die ruimte vir party-identifikasie eerder leeg gelaat word. Sy naam en foto moes onveranderd op die stembrief bly. Die Verkiesingskommissie het die aansoek teengestaan en aangevoer die uitleg is wettig.
‘Hy het geweier om die ontwerp goed te keur’
Die geskil het op 25 September tydens ’n voorlegging op Ficksburg ontstaan, toe Lötter die voorgestelde stembrief besigtig en beswaar gemaak het. Hy het geweier om die ontwerp goed te keur, maar eers op 26 Oktober ’n dringende hofaansoek ingedien.
Die hof het bevind die afkorting help kiesers om onafhanklike kandidate van partykandidate te onderskei. Dieselfde aanduiding is vir al 636 onafhanklike wykskandidate in die munisipale verkiesing gebruik. ’n Leë ruimte kon volgens die hof juis verwarring veroorsaak het.
Dit is omdat leë ruimtes ook gebruik word waar politieke partye nie geregistreerde afkortings het nie. Die hof het ook bevind Lötter het geen getuienis voorgelê dat die letters “IND” kiesers verwar of tot verkeerd gemerkte stembriewe gelei het nie.

André Dawid Lötter, onafhanklike kandidaat, se hofaansoek is van die hand gewys. Foto: Ficksburg/Setsoto-munisipaliteit
Lötter se politieke regte is volgens die hof ook nie geskend nie. Hy kon steeds as onafhanklike kandidaat meeding, en sy volle naam en foto was op die stembrief. ’n Individuele uitsondering sou die konsekwente behandeling van kandidate kon ondermyn.
Nog ’n struikelblok was die sperdatum vir verkiesingsgeskille. Die hofreëls bepaal dat ’n aansoek om ’n besluit van die Verkiesingskommissie te hersien binne dFotrie dae ingedien moet word. Lötter het egter meer as ’n maand ná sy aanvanklike beswaar gewag.
Sy verduideliking oor probleme met elektrisiteit en internettoegang, asook dat hy sonder regsverteenwoordiging opgetree het, was onvoldoende. Die hof het benadruk dat stembriewe reeds gedruk en versprei is en dat uitgerekte geskille die kommissie se voorbereidings kan benadeel.
Die kommissie se eie antwoord is ongeveer 18 uur laat ingedien, maar die hof het dit aanvaar omdat die vertraging verduidelik is. Die aansoek is gevolglik van die hand gewys.
Die hof het geen kostebevel teen Lötter gemaak nie, ondanks kritiek op sy optrede. Die uitspraak bevestig dat onafhanklike kandidate toekomstige besware oor stembriefontwerpe betyds en met konkrete getuienis sal moet staaf.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

