On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

18-jarige sterf ná 11 jaar se wag op beenmurgoorplanting

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:17 Tue, 24 Nov 2026

18-jarige sterf ná 11 jaar se wag op beenmurgoorplanting | News Article
Hannes Hern. Foto verskaf

Ná elf jaar se wag op ’n geskikte beenmurgskenker en die hoop op ’n nuwe lewe het ’n jong man se stryd teen ernstige komplikasies ná ’n oorplanting tragies geëindig.

Hannes Hern (18) van Klerksdorp is Maandag (23/11) om 20:25 oorlede, sowat twee en ’n half maande nadat hy sy broer, Dawie, se stamselle in ’n beenmurgoorplanting ontvang het. Hy het sedert sy kinderjare met Fanconi-anemie geleef, ’n toestand wat veroorsaak dat die beenmurg nie behoorlik funksioneer en nie genoeg bloedselle vervaardig nie.

Hy is vroeër vanjaar ook met leukemie gediagnoseer, hoewel die kanker ná twee rondes chemoterapie onder beheer gekom het. Ná ’n wêreldwye soektog van elf jaar kon geen geskikte 100%-skenker gevind word nie. Dawie het eindelik as ’n 50%-pasmaat na vore getree om die lewensreddende beenmurg te skenk.


Op 8 September het Hannes die stamselle van sy broer by die Wits Donald Gordon-hospitaal in Johannesburg ontvang. Dit was die dag waarop die familie se jare lange hoop op ’n nuwe kans vir Hannes eindelik ’n werklikheid geword het.

Die dae ná die oorplanting was egter besonder uitdagend. Vyf dae ná die prosedure het Hannes sy chemoterapie voltooi en moes sy liggaam begin om Dawie se gesonde stamselle te aanvaar en nuwe bloedselle te vervaardig.

Teen 17 September, nege dae ná die oorplanting, was sy bloedtellings baie laag. Hy het erge pyn in sy mond, hoë bloeddruk, kopseer en ligsensitiwiteit ervaar, terwyl sy liggaam onder geweldige druk was.

Dertig dae ná die oorplanting het ’n gevaarlike adenovirusinfeksie sy herstel verder bemoeilik. Hy het toe met intraveneuse immunoglobulienbehandeling (IVIG) begin in ’n poging om sy liggaam te help om die virus te beveg.

IVIG is ’n infusiebehandeling waarin gekonsentreerde teenliggaampies, wat uit die bloedplasma van gekeurde skenkers verkry word, direk in ’n aar toegedien word om die immuunstelsel te ondersteun of te reguleer.

Die infeksie het egter voortgeduur en sy toestand het verder verswak. Op 26 Oktober, 48 dae ná die oorplanting, is Hannes na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas. Die virus het sy blaas aangetas en die pyn was volgens sy familie so erg dat selfs morfien nie verligting gebring het nie.

Hannes en sy ma, Sulette, in die hospitaal. Foto verskaf

Drie dae later moes hy boonop teen verskeie ander komplikasies veg, waaronder pankreatitis, oftewel ontsteking van die pankreas, asook graad 3 graft-versus-host-siekte (GVHD) in sy ingewande. Dit het beteken dat die nuwe immuunstelsel wat hy van sy broer ontvang het, sy eie dermweefsel aangeval het.

Teen 30 Oktober was hy onder sedasie en is hy van ’n voedingsbuis en dreineringsbuis voorsien.

Die nuus het op 8 November, 61 dae ná die oorplanting, verder versleg toe die adenovirus ook sy longe aangetas het. Hannes het gesukkel om asem te haal en moes op hoëvloei-suurstof geplaas word.

Hannes het geveg tot die einde. Foto verskaf

Die virus het ook sy oë aangetas, wat sy sig beïnvloed het. Daar was boonop kommer oor moontlike aantasting van sy brein, en dokters het internasionale kundiges in Amerika en Duitsland geraadpleeg om na verdere antwoorde te soek.

Ná weke se behandeling en ’n stryd teen die een komplikasie ná die ander, het sy familie Vrydag (20/11) die hartverskeurende boodskap gedeel waarin sy ma, Sulette, bevestig het dat hulle met lewensbeëindigende behandeling begin.  “Hannes is gedaan en moeg baklei. Ons respekteer sy besluit.” Drie dae later is Hannes oorlede.

Chantél van den Berg van Hands of Grace & Kindness NPC, wat die gesin bygestaan het, beskryf hom as ’n cowboy met ’n hart van goud, ’n liefde vir musiek, ’n glimlag wat mens nie sommer sal vergeet nie en ’n veggees wat almal iets van moed geleer het.

Hannes is ná sowat twee en ’n half maande ná die oorplanting oorlede. Foto verskaf

“Jy het geveg met alles wat in jou was. Jy het deur pyn en lyding gegaan wat geen mens, wat nog te sê ’n kind, ooit behoort te ervaar nie, maar vanaand hoef jy nie meer te veg nie,” het sy gesê.

Van den Berg sê daar is nie woorde om die hartseer van Hannes se ouers, Sulette en Johan, en sy broer, Dawie, te beskryf nie.

“Daar is nie woorde wat hierdie seer kan wegneem nie. Geen boodskap kan die leemte vul wat Hannes se heengaan agterlaat nie. Julle het saam met hom ’n pad gestap wat geen ouer, broer of gesin ooit behoort te stap nie.

“Sulette, ek het ’n ma se hart sien veg. Ek het jou liefde, jou trane, jou geloof en jou onbeskryflike moed gesien. Ek het gesien hoe jy elke tree saam met Hannes gestap het, hoe jy aan hoop vasgehou het en hoe jou onvoorwaardelike liefde vir jou kind deur elke moeilike oomblik gebly het.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.