Central SA
Bloemfonteinse staatsaanklaer sterf: ‘Kwaai soos ’n leeu, hart van goud’─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:56 Sat, 28 Nov 2026
Sy kon kwaai soos ’n leeu wees, maar agter haar sterk persoonlikheid was ’n hart van goud.
Adv. Jacqueline Joy (Jackie) Moles (65), ’n voormalige senior aanklaer in Bloemfontein, is Woensdag (26/11) in die Mediclinic Bloemfontein oorlede. Sy het met haar kennis, toewyding en besondere vermoë om ander te inspireer ’n blywende indruk op die regsberoep en die mense om haar gelaat.
Adv. Roy Naudé, haar jare lange vriend en kollega, beskryf haar as ’n uitsonderlike mens wat professioneel, taakgerig en uiters kundig op haar gebied was. Moles het einde Mei vanjaar afgetree nadat sy sowat 26 jaar lank as senior aanklaer in die Bloemfonteinse landdroshof gedien het. Haar loopbaan in die regsberoep het reeds in die 1980’s begin toe sy as landdros in Kimberley aangestel is.

Adv. Jacqueline Moles. Foto verskaf
Ná etlike jare in die buiteland saam met haar gesin het sy in 2000 na Suid-Afrika teruggekeer en weer by die NVG aangesluit. Adv. Sello Matlhoko, hoofaanklaer, sê sy het vinnig bewys dat haar skerp intellek, toewyding en passie vir geregtigheid onveranderd gebly het. Sy is in 2004 tot senior aanklaer bevorder, ’n pos wat sy met onderskeiding tot haar aftrede beklee het.
“Moles was ’n steunpilaar vir haar kollegas en iemand op wie hulle altyd kon staatmaak vir leiding en ondersteuning. Sy was deernisvol, het omgegee en was veral sensitief vir die nood van minderbevoorregte en kwesbare mense in ons samelewing.” sê hy.
'Sy kon sonder enige voorbereiding oor feitlik enige onderwerp praat'
Hy beskryf haar dood as ’n groot skok vir die aanklaersgemeenskap in Bloemfontein en sê die nuus is met ongeloof ontvang. “Moles het ’n besondere gawe met woorde gehad en kon sonder enige voorbereiding oor feitlik enige onderwerp praat. Of sy oor ’n regskwessie gepraat, jong aanklaers opgelei of iemand aangemoedig het, het sy haar gehoor met haar kennis, humorsin en welsprekendheid beïndruk.”
Haar belangstelling in mense het egter veel verder as die werkplek gestrek. “Sy het ander op ’n unieke wyse laat voel dat hulle gehoor, gewaardeer en ondersteun word. Haar wysheid, humorsin en boeiende persoonlikheid het haar ’n gerespekteerde kollega, ’n vertroude mentor en vir my ’n dierbare vriendin gemaak,” sê Matlhoko.

Adv. Roy Naudé en adv. Jacqueline Moles. Foto verskaf
Naude, wat sedert 2021 daagliks saam met Moles in Bloemfontein gewerk het, sê wat as ’n professionele verhouding begin het, het mettertyd in een van die waardevolste vriendskappe van sy lewe ontwikkel.
Hy beskryf haar as iemand wat haar werk met besondere sorg en pligsbesef benader het. Geen dossier was te klein om haar volle aandag te verdien nie, en sy was altyd bereid om haar kennis met jong aanklaers te deel. “Talle aanklaers in die provinsie dra vandag iets van haar nalatenskap saam in die manier waarop hulle sake voorberei, in die hof optree en mense behandel.”
Naude beskryf haar ook as ’n baanbreker vir vroue in die regsberoep en meen dat sy een van die eerste vroue was wat as landdros in Suid-Afrika aangestel is, hoewel hy dié bewering onder voorbehoud stel.
“Haar aftrede sou die begin van ’n nuwe hoofstuk wees. Sy het uitgesien daarna om oorsee te reis en haar twee seuns, Daniel en Matthew, te besoek. Sy het ook planne gehad om na Potchefstroom te verhuis om nader aan haar familie te wees.
“Die tyd om dié nuwe hoofstuk te geniet, was egter kort. Haar dood laat ’n groot leemte. Sy was geliefd en sal gemis word.”

Intussen het die aanklaers vir haar ’n lewensviering gereël. Dit vind op 2 Desember om 12:00 by die Roseview Primary School-saal in Victoriastraat, Willows, Bloemfontein, plaas. Die finale begrafnisreëlings is nog nie getref nie, omdat hulle wag dat Moles se seun van China na Suid-Afrika terugkeer.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

