Central SA
Mans van Noordwes wil om borgtog aansoek doen ná beweerde ontvoering─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:34 Sun, 29 Nov 2026
Twee mans wat van huisroof, ontvoering, motorkaping en afpersing aangekla word, sal Vrydag (4/12) weer in die Brits-landdroshof verskyn vir ’n formele borgtogaansoek.
Abueng Abel Mogotsi (28) en Kamogelo Raseroka (27) het Woensdag (25/11) in dieselfde hof verskyn en bly in aanhouding. “Hulle is Maandag (23/11) in hegtenis geneem ná ’n intelligensiegedrewe operasie in Jericho,” sê konst. Thuto Bobelo, provinsiale polisiewoordvoerder.
Op 3 Oktober is ’n vrou (30) in die Vuka Section in Jericho na bewering deur onbekende mans met ’n vuurwapen gedreig, ontvoer en van haar motor beroof. “Sy is glo in haar eie voertuig weggeneem en later naby bosse in Letlhakaneng agtergelaat, waarna die verdagtes op die vlug geslaan het.”
Die ondersoekspan het inligting ontvang oor waar die twee verdagtes moontlik bly. Die Brits-misdaadintelligensie, taakspan en Jericho-speurders het op die blyplekke van die twee mans toegeslaan en hulle in hegtenis geneem.
Bobole sê die verdagtes het glo ná hul inhegtenisneming skuld beken. Lt.genl. Arthur Adams, provinsiale polisiekommissaris, het almal geloof vir hul samewerking en die suksesvolle inhegtenisnemings.
Hy sê misdade soos huisroof, ontvoering en motorkaping het ’n verwoestende uitwerking op slagoffers en gemeenskappe. “Die polisie bly verbind tot intelligensiegedrewe operasies om misdaad en geweldsmisdaad te bekamp.”
Die polisie sal alles moontlik doen om sulke misdadigers te identifiseer sodat hulle aangekla en in die hof kan verskyn. Die ondersoek duur voort en nog inhegtenisnemings kan moontlik verwag word.
OFM Nuus dg
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427

