On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Entertainment

Potchefstromer blink uit in kinderboekkompetisie

───   SUSAN MARÉ 09:27 Wed, 13 Aug 2025

Potchefstromer blink uit in kinderboekkompetisie | News Article
Isabelle Smit, ’n grafiese ontwerper van Potchefstroom wat een van drie wenners was in Protea Boekhuis se Picture This-kompetisie vir kinderboekillustreerders. Foto verskaf

Isabelle Smit van Potchefstroom is een van drie wenners in Picture This - ’n internasionale illustrasiekompetisie.

Haar inspirasie was die boek Eerste vlug, die verhaal van ’n volstruis en twee pikkewyne wat daarvan droom om te vlieg en ontdek jy kan jou drome met die hulp van vriende bewaarheid. Die beoordelaar Piet Grobler, self ’n bekroonde kinderboekillustreerder van meer as 100 boeke, skryf in sy beoordeling Smit se inskrywing is “subtiel en sagmoedig”, in so ’n mate dat dit “’n bietjie dekoratief raak soos prente op ’n babakombersie of kindergordyne”.

Tog sê hy dit bevat “genoeg humor en ritme en subtiele karakteruitbeelding om my aandag en belangstelling te hou. Ek is van mening dat sy die aard van die prenteboek as vertellende medium duidelik verstaan en saam met ’n uitgewer kan werk om dit ’n mooi boek te maak.”

Eerste vlug vertel die verhaal van ’n volstruis en twee pikkewyne wat daarvan droom om te vlieg. Foto verskaf

Beoordelaars was op die uitkyk na unieke illustrasies wat die heersende neigings weerspieël: die beste tegniek en tekenvermoë, kleurgebruik en populêre style wat tans in prenteboeke te sien is. Hulle het ook gekyk of die illustreerder ’n aanvoeling het vir die prenteboekgenre en weet hoe om sy of haar medium vernuftig te benut om ’n atmosfeer te skep en ’n storie te vertel.

Internasionale blootstelling

Die kompetisie was ’n geleentheid vir illustreerders deur Lemniscaat Publishers en die International Centre for the Picture Book in Society. Plaaslik word dit deur Protea Boekhuis bestuur.

Reon Erasmus, ’n boekverkoper van Protea, sê Protea Boekhuis is die trotse publiseerder van kinderboeke van hoogstaande gehalte: “Ons voel geëerd dat die genoemde organisasie ons genader het om deel te wees van hul projek.

“Dit is vir Protea Boekhuis belangrik om aan die wenners ’n geleentheid vir publikasie te bied, plaaslike sowel as internasionaal. Die werk van die wenners sal deel vorm van ’n reisende tentoonstelling in die deelnemende lande.

Een van Isabelle se illustrasies vir Eerste vlug. Foto verskaf

“Die algehele wenner se werk sal ook in ’n internasionale katalogus gepubliseer en aan internasionale kinderboekuitgewers op die Bologna-kinderboekebeurs in 2026 voorgelê word. Dit bied die kunstenaars ’n uitstekende geleentheid om internasionale blootstelling te kry.”

Verryk kinderlewens

Smit sê dit was vir haar ’n verrassing dat haar inskrywing onder die topdrie geëindig het. Sy is erg oor kinderboeke met prente en weet hoe dit ’n kind se kreatiwiteit en verbeelding kan verryk. 

Kinders moet deel voel van die storie en nie net ontvangers of passiewe lesers van ’n teks nie. Smit, wat as grafiese kunstenaar in Potchefstroom werk, sê sy het in ’n kreatiewe, estetiese ouerhuis in Pretoria grootgeword met ’n pa wat skilder en digter en ’n ma wat binnenshuise versierder is.

Sy het baie van hulle geleer en so in die kunste ingegroei. Sy het ’n graad in Grafiese Ontwerp en ’n honneursgraad in Kunsgeskiedenis aan die Noordwes-Universiteit verwerf.

Die internasionale Picture This-kompetisie word plaaslik deur Protea Boekhuis bestuur. Foto: Instagram

Die tegniek wat sy in Eerste vlug gebruik het, was gouache en kleurpotlood op papier. Gouache is ’n vermenging tussen akriel en waterverf en is bekend vir sy diep deklaag eienskappe. 

Dit bestaan uit pigment, water en ’n bindmiddel soos gom en bied helderder kleure en die vermoë om onderlae te bedek. 

Gevra oor hoe sy haarself as kunstenaar sal beskryf, antwoord sy: “Kreatief en nuuskierig.

‘Hoe verduidelik ’n mens vir ’n kind dat Gouelokkies eintlik ’n misdaad gepleeg het?’

“In alles wat ek doen, van grafiese tot selfs kommersiële ontwerp, glo ek aan eerlikheid en konsekwentheid. Ek glo nie in die namaak van kuns nie, maar om van die egte lewe om my iets te skep wat outentiek is. 

“Ek besef opnuut hoe boeke met prente kinders se lewe verryk. As ma van twee wat daardie geestelike verantwoordelikheid ernstig dra, kyk ek nou met ’n meer kritiese oog na die verhale rondom ons. 

“Wanneer ek klassieke sprokies lees, word ek soms gefrustreerd – hoe verduidelik ’n mens vir ’n kind dat Gouelokkies eintlik ’n misdaad gepleeg het deur in die bere se huis in te stap? Ek vind my kunspraktyk is soms net die soeke na stories wat dieper betekenis dra en ons help om die wêreld om ons te verstaan.”

Die tegniek wat sy in Eerste vlug gebruik het, was gouache en kleurpotlood op papier. Foto verskaf

Sy beskryf  haar illustrasies as speels en lighartig. “Ek begin dikwels met tradisionele tegnieke, wat dan verwikkel in gemengdemedia-komposisies in.

“My werk voel tuis in kinderruimtes, maar praat hopelik net so maklik met die volwasse kyker. Ek geniet ’n kunswerk wat mens laat wonder oor die karakters en hul stories.”

Gee verbeelding vlerke

Anke Theron, skrywer van die rubriek “Goue lint, my storie begint” op LitNet en verbonde aan die Universiteit van Kaapstad, sê kinderboeke is die gereedskap wat ons uit die staanspoor met kinders kan deel en kan gebruik om vir hulle ’n wêreld te skep waarin hul verbeelding vlerke kry.

Kinderboeke is waar kinders in ’n veilige omgewing empatie kan leer en waar hulle belangrike waardes kan ontdek. In ons wêreld, wat oorheers word deur sosiale media en waar kinders met visuele tekste gebombardeer word, is dit juis illustrasies in kinderboeke waar kinders kan leer om sin te maak van al die visuele tekste.

LEES OOK: Kultuurgeskiedenis-kongres werp lig op argitektuur in Suid-Vrystaat

“As ons kinders wil grootmaak wat intelligente, ingeligte verbruikers en lesers van visuele tekste sal wees, dan is dit van uiterste belang om ons kinders te wys en te leer hoe om visuele tekste en elemente te ‘lees’ vir betekenis.

“Daarom is kinderboeke met illustrasies so belangrik. Dit bevorder die kind se toekomstige akademiese prestasie en bevorder sy visuele geletterdheid deur tyd aan die illustrasies in kinderboeke te bestee.

“Dit is deel van ’n integrale proses van sosialisering en funksionering in die moderne, tegnologiese samelewing.”

OFM Nuus/Susan Maré mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.