Entertainment
Bloemhof gekroon as dorp van die jaar─── SUSAN MARÉ 07:50 Wed, 27 Aug 2025

Op Bloemhof is almal nou al drie weke lank in die wolke, van dorpenaars en omliggende boere tot township-bewoners en amptenare van Lekwa-Teemane-munisipaliteit.
Om as Suid-Afrika se nasionale wendorp gekroon te word in Kwêla se dorp van die jaar-kompetisie is nou deel van die geskiedenis van hierdie Noordwes-dorp aan die N12-roete. Die ander finaliste was Rehoboth in Namibië (tweede), Wildernis in die Wes-Kaap (derde) en Pennington in KwaZulu-Natal (vierde).
Bloemhof is in 1866 gestig op die plaas Klipfontein van John Barclay toe diamante in die omgewing ontdek is. Sy dogter se pragtige tuin het Barclay geïnspireer om die dorp Bloemhof te noem, wat blomtuin beteken.
’n Dorpsraad is in 1917 ingestel. Sedertdien het die dorp gegroei tot ’n sterk landbougemeenskap en ’n dorp met ’n groot hart.
Die indrukwekkende Bloemhofdam, wat amptelik in 1970 geopen is, is welbekend as hengelaarsparadys waar nasionale kompetisies gehou word en selfs internasionale hengelaars daarheen lok. Dit was vroeër bekend as die Oppermansdrifdam en het ’n 33 m hoë damwal.
Die dorp is omring met natuurreservate waar wilde diere en voëls besigtig kan word en dit vir toeriste ’n gewilde heenkome is vir ontspanning.
’n Saadjie was nodig
Die gedagte om deel te neem het by Albert Nel, ’n VF Plus-raadslid, ontstaan. Hoekom vat Bloemhof nie ook ’n kans nie? Hy het die saadjie gesaai en inwoners was dadelik ingenome.
“As raadslid het ek dadelik besef hierdie geleentheid moet deur die hele gemeenskap aangegryp word. Die gemeenskap kan sy huis op hierdie manier in orde kry.
“’n Dorp moet netjies wees en dit is tyd dat die privaat sektor en inwoners die leiding neem om dit aan die gang te kry. Ons moet ons dorp oor kultuurgrense heen inspireer om die dorp saam op te lig en verbeter.
Simbolies aan die naam Bloemhof, word daar deesdae op dié Noordwes-dorp geblom. Heel voor is die projekbestuurder van die dorp se Kwêla-span – Daleen Steyn. Foto verskaf
“Ek het my gedagte op die plaaslike WhatsApp-groep van die dorp gedeel en sowat 90% van die inwoners was positief. Daar was egter iemand nodig om voor te vat en Daleen Steyn was die ideale persoon om die leisels as projekbestuurder te neem.”
Tydens ’n gemeenskapsvergadering is ’n komitee gestig en die Bloemhof-dorp-en-dam-projek is begin. Een van die doelstellings was om almal se onderskeie vaardighede in te span.
Daar is op groot skaal begin om diensprojekte op te knap. Die sogenoemde Rippelspan het afgeskop en Steyn as projekbestuurder het die simboliek daarvan verduidelik.
Die internasionaal bekende Bloemhofdam veral vir hengelaars en die Vaalrivier is die dorp Bloemhof in Noordwes se beeldskone lewensaar. Foto verskaf
“Het jy al ooit stilgestaan en gedink oor die krag wat in een enkele mens skuil? In ons eie Bloemhof, die rustige dorpie langs ons bekende dam, naby die gekabbel van die Vaalrivier, kan die impak van net een persoon ’n onmeetlike verskil maak.
“Dink aan ’n klippie wat in die stil waters van ons mooiste dam gegooi word. Daardie enkele aksie skep ’n reeks rimpels wat al verder en verder uitkring.
“Dit begin dalk klein – ’n helpende hand vir ’n buurman, ’n glimlag vir ’n vreemdeling, ’n inisiatief om ons omgewing skoner te maak. Maar … daardie klein begin kan ander inspireer, motiveer en aanvuur om ook betrokke te raak.
Daar is seker nie ‘n siel in Bloemhof wat nie deel van die groot stemmery was nie. Hier is Daleen Steyn by ‘n stemgroep om hulle te motiveer. Foto verskaf
“Skielik is daar beweging, energie en ’n gevoel van samehorigheid en positiewe veranderinge wat almal raak. Laat elkeen van ons hier in Bloemhof daardie klippie wees.”
Steyn sê om vir Kwêla se kompetisie in te skryf het toe wel wye rimpels gemaak. Die Rippelspan kan net met lof praat oor hoe inwoners ingekoop het op die simboliek van die klippie.
“So het positiewe veranderings begin – aksies het die dorp begin saamsnoer en ’n nuwe dorpstrots ontketen. Inwoners wou wys dat Bloemhof meer as net ’n stilhouplek op die N12 is.
“Bloemhof is ’n gemeenskap wat wíl blom en lig bo duisternis en stagnering verkies. Die hartklop van Bloemhof is ’n simbool van ’n gemeenskap se harde werk, trots en geskiedenis en dit alles doen die naam van die dorp eer aan.”
Inwoners is trots en ingenome oor die al die dorpsenergie danksy die Kwêla-inskrywing en volgens Nel het daar die afgelope jaar selfs tien franchise-ondernemings op Bloemhof geopen, soos Clicks, Crazy Store en PEP Home.
’n Wimpy maak binnekort sy deure oop. Dis iets wat ongekend is op die platteland, sê Nel.
“’n Mens voel dankbaar as jy dink hoe almal saamgewerk het tot hier, hoe plaaslike boere finansiële steun vir die dorp se skoonmaak bewillig het en plaaslike ondernemings kos vir die werkers verskaf.
“Daar was selfs ’n skoonmaakmakietie gehou, sê hy. Voeg daarby dat Bloemhof nou die beste stilhouplek tussen Johannesburg en Kimberley is.”
Stof wat liggies dans
Bloemhof se eie dorpslied, Stof wat liggies dans, is deur Daleen Steyn en Johan Heyns geskryf. Die lirieke besing Bloemhof en sy mense:
Langs die N12 waar die stof so liggies dans /
Tussen Jo’burg en die Kaap, ’n rustige kans /
Daar lê plekkie met hart so warm en groot /
Waar die Vaalrivier vloei, so soet
Koor
Bloemhof, Bloemhof a lively and hopeful place /
Met trots verklaar ons, hier vind ons grace /
Bloemhof dam, a fishing paradise so grand /
Bloemhof, Ke Legae /
This is our promised land
Bloemhoffers by die aankondiging van Kwêla se Dorp van die Jaar. Van links is Hannes van Wyk, aanbieder van Kwêla, Rene Wentzel, Daleen Steyn, projekbestuurder van die Bloemhofspan en Albert Nel, ook van die Bloemhofspan, Maryke Haywood, bemarkingsbestuurder van Lottoland, en Waldimar Pelser, hoof van kykNET. Foto: KykNET
Knoop dié datum aan die oor: 1 November. Verskeie musikante kom na Bloemhof vir die viering – Juanita du Plessis, Elandré, Ryk Kleinhans, die Bloemhof Boereorkes, Johan Heyns, Jordon Phyllip’s Band, en ander. Sowat 2 500 tot 3 000 mense word verwag en die wins van die makietie sal gebruik word vir die verdere opknapping van die dorp.
Steyn sê: “Ons nooi almal van heinde en ver om op 1 November saam te kom makietie hou. Buurdorpe is veral welkom.
“Kom deel in ons viering en wees saam met ons dankbaar en bly. Die dag gaan op ’n hoë noot begin en eindig.”