Entertainment
Hanover se jaarlikse fees bring gemeenskap byeen─── SUSAN MARÉ 16:39 Fri, 10 Apr 2026
Die derde Hanover Rocks-fees was weer ’n wegholsukses danksy dié skilderagtige, geskiedkundige dorp aan die N1 in die Bo-Karoo se kragtige, geesdriftige gemeenskap.
Die fees was ’n gesamentlike poging van die Hanover-boerevereniging, die Hanover Fellowship Church, die Hanover-klub, sakelui en ander betrokkenes. Dit het dit ’n besonderse gemeenskapsprojek gemaak.
Cornel Stevens, feeskomiteelid, sê sowat 110 vroue het Vrydag 27 Maart ’n vroueoggend bygewoon met twee besonderse, inspirerende vroue as eregaste. Matie van Graan en Joany Brink was die oggend se inspirasie.
Van Graan, van Centurion, is veral bekend vir haar video’s op sosiale media as bemarker vir Boerboelklere. Brink is die hart agter Brink of Touch, wat geurige sojakerse vervaardig. Sy is van Bloemfontein.
Die vroue van Hanover het gesellig saamgekuier, gekoek-en-getee en daarna ’n smaaklike middagete geniet.
Terwyl die vroue gekuier het, was die manne by ’n byeenkoms van die Jongooi-klub vir ’n demonstrasie van hoe om ’n skaap te skeer. Skaapskeerders het ook opleiding gekry in samewerking met die Nasionale Wolkwekersvereniging van Suid-Afrika. Die skeerders het onder meer geleer hoe om wol te klas.
Die Vrydagaand is ná ’n biefstukete met geesdrif geskoffel tot laatnag op die maat van musiek deur Rooies Grobbelaar en Armand Steenkamp.
Reinhardt Kock, Grant en Gemma Naudé, Driesie Ferreira en Christiaan Venter het ook die fees bygewoon. Foto verskaf
Plaaslike boer en president van Merino Suid-Afrika, Stefan Naudé, en sy vrou, Tamaryn, sê al die borge is Saterdag (28/3) in spanne gedeel om teen mekaar rolbal te speel. Die fees is altyd deel van die jaarlikse merinoskou en die Noord-Kaap se ram van die jaar-kompetisie. Weens bek-en-klouseer is die merinoskou vanjaar oorgeslaan.
Die fees het vanjaar sy eerste Karoo Tapas-geleentheid ingesluit, vertel Tamaryn. “Ons het Saterdag om 12:00 begin en elke uur die volgende tapa bedien. Dit was ’n goeie idee om gehalte skaap- en lamvleis só te bemark.
“Ons het die tapas geniet terwyl Schwabie en Armand Steenkamp musiek gemaak het. Saterdagaand het ons Jan Rhaap as kunstenaar gehad en op maat van sy musiek lekker gedans.”
Oud en jonk het rolbal gespeel toe borge teen mekaar meegeding het. Foto verskaf
Tapas is ’n tradisionele Spaanse manier van eet wat bestaan uit klein porsies kos en snoephappies. Vir die inwoners van Hanover en die feesgangers was dit ’n eetervaring soos min.
Hanover is bekend vir sy pragtige NG kerkgebou en geskiedkundige Olive Schreiner-huis. Die kerk by Markstraat 6 is ’n baken op die dorp en staan bekend as een van die mooiste kerke in die land. Die geskiedenis van die kerk dateer terug na die 19de eeu. Die eerste kerkgebou is in 1859 opgerig.
Die huidige, indrukwekkende sandsteengebou is van 1907 tot 1908 gebou. Dit is ’n Neo-Gotiese kerk wat die Australiese immigrant William Henry Ford ontwerp het en is ’n besonderse toerismeaantreklikheid.

Marelize Steyn, Matie van Graan en Fronika Gilmer. Foto verskaf
Olive Schreiner se huis by Gracestraat 11 word nou opgeknap. Sy het ’n moeilike tydperk op Hanover rondom die Anglo-Boereoorlog deurgebring en ’n aantal jare hier gewoon. Sy is feitlik deur die Britse militêre owerheid geïnterneer weens haar uitgesproke standpunte vir die Boere en haar opposisie van Britse imperialisme.
Stevens sê Hanover is vir reisigers op die N1 ’n indraaiplek duisend. Benewens twee besienswaardighede op die dorp word Hanover gerugsteun deur ’n groot en suksesvolle landbougemeenskap.
Toeriste kan in gasteplase oornag of in die opgeknapte hotel wat onder nuwe eienaarskap is. Die omgewing bied baie verblyf, voëlkykplekke en selfs ’n plek waar seekoeie bekyk kan word. In die winter wemel dit van jagters wat na wildsplase kom.
Hanover het ’n aktiewe rolbalklub wat jaarliks die aanbieder van ’n Wildstoernooi is. Feesgangers, jonk en oud, het geesdriftig saam rolbal gespeel as deel van die feesprogram.
Die datums vir die Hanover Rocks-fees vir 2027 is nog nie bekend nie.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

