On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Food

Daardie Boeretroos wat jou so lank by die koffierakke laat staan

───   SUSAN MARÉ 12:57 Tue, 05 May 2026

Daardie Boeretroos wat jou so lank by die koffierakke laat staan | News Article
’n Koffie vir elke smaak op aarde. Foto verskaf

Egte boeretroos kan jy nie meer vir ’n appel en ’n ei koop nie.

Hoër koffiepryse die afgelope sowat drie jaar laat mense langer voor winkels se koffierakke staan – en hul lyftaal spreek boekdele. Is ’n botteltjie koffie van 95 g meer ekonomies as ’n groter bottel van 200 g?

Die prys is beter vir jou sak? Nee, dit is nie eintlik nie, want vir 95 g gaan jy dalk meer per gram betaal. Verbruikers wonder wat gaan aan. Is dit die regering of die supermarkte wat ons so rook?

Koffiepryse bly dan hoog selfs wanneer algemene inflasie afneem. Die rede hiervoor is moontlik omdat koffie ’n produk is waarvoor verbruikers bereid is om te betaal ten spyte van prysstygings.

Boeretroos is natuurlik ’n eg Suid-Afrikaanse term vir koffie wat sy oorsprong in die vroeëre boeregeskiedenis in Suid-Afrika het. Vir mense op die trekpad of afgeleë plase was ’n warm koppie koffie dikwels die grootste (en soms enigste) vorm van “troos” of bederf ná ’n lang dag se harde werk.


Die keteltjie op die kampvuur of stoof (met ’n flenniesakfilter) se inhoud moes die verlore woema in die liggaam terugsit. Oumagroot het haar koffiebone met suiker in die oond gebak. Dit is daarna in ’n sakkie gegooi vir die spens en bone is net voor gebruik vars met ’n handslingermeul gemaal.

Daar was by sommige van die ou boere die plaasmetode waar die bone in ’n hol klip met ’n kleiner, langerig en ronde klip gemaal is. ’n Mens sou daardie koffie as eg en aards kon beskryf.

Die dieper betekenis van koffie is moontlik sy emosionele waarde en simboliek van sterkte en styl. Dis troos, kuier en nostalgie. Dis ’n belangrike drankie by sakevergaderings of in werkplekke.

Of die voorkeur nou kits- of fynproewerkoffie van gemaalde bone is, dit gee moed en skop en baie mense verkies hul koffie “sterk en swart.

“Die keteltjie op die kampvuur of stoof (met ’n flenniesakfilter) se inhoud moes die verlore woema in die liggaam terugsit”

Verskeie webwerwe op die internet besing koffie as een van die gewildste drankies ter wêreld. Meer as twee biljoen mense in die wêreld drink elke dag koffie, gemiddeld drie tot vyf bekers of koppies.

Twee derdes van mense in die VSA is ernstige koffiedrinkers, en tariewe op die invoer van koffiebone uit Brasilië tref hulle ook swaar.

Volgens Climate Central is ekstreme temperatuurstygings en te veel reën in die koffieboongordel die groot rede vir duurder koffiepryse. Dit het gelei tot wêreldrekordpryse vir verbruikers.

Die vernaamste koffieproduserende lande soos Brasilië, Viëtnam, Colombië, Etiopië en Indonesië verkeer onder groot druk. Vir hulle is daar nuwe uitdagings soos klimaatveranderings wat die koffieboon van die wa wil afgooi, peste, roes en ander probleme wat die plantasies tref.


Teen April het koffiepryse in Suid-Afrika volgens data van die Eighty20-navorsing begin stabiliseer maar dit bly taamlik hoog ná die prysskokke van die afgelope twee jaar. Liefhebbers van koffie en koffiesnobs bly egter mor terwyl beursies knor, want koffie is dúúr. Baie duur vir Jan en alleman.

Volgens Climate Central se Climate Shift Index produseer dié vyf lande soos hier bo genoem 75% van die wêreld se koffie met Brasilië as die top produserende land. Die land lewer sowat 95% van die totale koffieproduksie.

Klimaatveranderings tref ook Arabica-koffie sleg wat sowat 60–78% van die globale verskaffing is. Arabica-koffie is die gewildste koffie, bekend vir sy besonderse komplekse smaak, hoër suurgehalte en laer kafeïen van ongeveer 0,8–1,5%. Brasilië is die grootste produseerder van hierdie bone.

Robusta is die tweede gewildste koffiesoort ter wêreld met ’n hoë kafeïen-inhoud van 2-4.5%. Dit het ’n sterk “harde” of skerp geur en word veral deur Viëtnam geproduseer.

Brasilië is die grootste verskaffer van Arabica-koffie. Foto verskaf

Nie ’n goeie vooruitsig nie is dat geskikte landbougrond vir koffieverbouing wat gemiddeld 12 akkers groot is vir kleinboere in die koffieboonlande teen 2050 met 50% sal verminder.

Suid-Afrika se sowat 22,7 miljoen inwoners se gunstelingkoffie is kitskoffie. Die land se koffiekultuur word sterk deur die Europese styl beïnvloed.

’n Redelike koppie koffie in ’n restaurant of koffiekroeg kos nou gemiddeld R35. Vir ’n americano kan jy gemiddeld R37 tot R40 opdok, vir ’n cappuccino R43 tot R48 en cafe latte R42 tot R48. Die gewildste koffies in Suid-Afrika is Nescafé, Ricoffy, Frisco Original, Jacobs Krönung, Nescafé Gold en Douwe Egberts.

Van die kitskoffies is ’n mengsel van sigorei en koffie. Ricoffy is ’n mengsel van 37% koffie en 63% sigorei. Frisco is ook ’n mengsel van koffie en sigorei. ’n Standaard koppie koffie van 240 ml bevat 95–100 mg kafeïen, ’n enkel-espresso 63 mg en ’n gedekafeïneerde koffie 2–15 mg.


Volgens James Hopkins Medicine is koffie ’n drankie wat ook gesondheidsvoordele inhou. Koffie bevorder die glukose-metabolisme en insuliensensitiwiteit.

Koffie se verdere voordele hou verband met die lewer, skielike sterf aan ’n hartaanval, beroertes en niersiektes. Dit kan volgens Hopkins ook lei tot laer risiko’s vir siektes soos parkinson- en alzheimersiekte sowel as om demensie en depressie te help verlaag.

Koffiedrinkers kan egter volgens Hopkins ook newe-effekte ervaar vir mense met ’n stadige metabolisme – wat lei tot die ritteltits, angs of hartkloppings.

Ongefiltreerde broumetodes soos die Franse dompelaarmetode, Turkse of gekookte koffie bevat olies wat “diterpenes” genoem word en slegte cholesterol (LDL) verhoog. Gefiltreerde koffie is glo ’n beter metode.

Soveel mense op aarde, soveel koffies en smake. Foto verskaf

Connoisseurs van koffie sal nie maklik nie indien wel kitskoffie wat met sigorei gemeng is, koop. Sigorei is in die algemeen nie sleg vir die gesondheid nie omdat dit ’n kragtige prebiotikum is wat die gesondheid van die spysverteringskanaal ondersteun en hardlywigheid verlig. 

Dit is ryk aan inulin – ’n vesel wat goeie bakterieë in die maag voed en inflammasie help voorkom. ’n Koffie-alternatief is geroosterde sigoreiwortel wat kafeïenvry is met ’n ryk smaak. Te veel sigorei kan egter gas, opgeblaasdheid of krampe veroorsaak.

Koffie is egter nie meer soos wat dit met die trek- en plaasboere was nie. Dit is in 2026 ’n gesofistikeerde, verruklike drankie met status terwyl opgeleide baristas die kunstenaars is wat koffie uit koffiemasjiene tower met hartjies of prente van skuim.

“Koffie is in 2026 ’n gesofistikeerde, verruklike drankie met status”

Daardie Cremora, room en suiker. Te té kan die koffiewa laat omkantel.

Te veel room en suiker in koffie kelder ongelukkig die gesondheidsvoordele met verhoogde kafeïen-inname, om van versadigde vette nie te praat nie wat tot LDL (slegte) cholesterolvlakke ly.

OFM Nuus het gesels met Christo König, uitvoerende hoof van König Coffee in Kaapstad. Hy sê koffie is ’n groot ding in baie lande, veral die ouer lande. Self het hy ’n hele koffiekultuur by die Italianers geleer toe hy in Noord-Natal gewerk het.

Christo König. Foto verskaf

“Vroegoggende word op kantoor gevra, ‘Wie wil koffie hê?’ en kort voor lank sit almal om ’n tafel vir ’n vergadering met ’n behoorlike espresso. Daarna verloop die dag sommer gladder.

“Ek dink die afgelope 20 jaar het die koffiebedryf in Suid-Afrika gegroei en al gewilder geword. Dit is veral moderne, gesofistikeerde koffietoerusting wat bydra dat al meer mense betrokke raak.

“My grootste uitdaging in die koffiebedryf is vir seker om kwaliteit en prys van dit wat ek aankoop bestuur te kry. Ons koffie word gemeng en ons streef daarna om nooit lae kwaliteit aan te koop nie.

“Met gemengde koffie (versnitte) gee ons aan die verbruiker sekerheid. Hulle weet wat hulle gaan kry as hulle koop. Koffie het ’n goeie toekoms – daar sal altyd koffie wees vir mense om te drink.”

“Hit me with your best shot …”

Wat noem jy ’n koppie koffie wat nie goed lyk nie? ’n Depresso. Hoekom het die espresso kort-kort op sy horlosie gekyk? Hy was gedruk vir tyd.

Wat is koffie se gunsteling-karaokelied? “Hit me with your best shot.”

Soveel mense op aarde, soveel koffies en smake. Inderdaad. Wyle Jan Spies se beskrywing van koffie met ’n skootjie Cremora is nog in mense se geheue: “. . . ryk en lekker smaak dit, sê ek jou – ryk en lekker en púúúre plaas . . .”

Liefhebbers van koffie se bloedgroep is glo koffie-positief, word gespot. Van die ander sêgoed oor koffie: Koffie vra nie simpel vrae nie, koffie verstaan; al wat ’n vrou soms nodig het, is ’n lekker koppie koffie en vyf miljoen rand.”

OFM Nuus/Susan Maré sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.