Food
‘Get Wise Wednesday’: Gesonde eetgewoontes hoef nie duur te wees nie─── 13:39 Wed, 13 Aug 2025

Die idee dat gesond eet buitensporig duur is, is ’n wanindruk, sê Ermi Spies, dosent in voeding en dieetkunde aan die Universiteit van die Vrystaat.
Sy het ten tyde van Get Wise Wednesday op OFM verduidelik dat gesonde eetgewoontes eerder oor beplanning en eenvoudige kookmetodes gaan as oor duur bestanddele. Volgens Spies bestaan ’n gesonde dieet hoofsaaklik uit tuisgemaakte kos wat naby aan die natuurlike vorm is – soos vars vrugte, groente, volgraan en peulgewasse.
Ontbyt kan byvoorbeeld ’n gekookte eier op volgraanbrood met ’n paar spinasieblare wees. Middagete, wat jou grootste maaltyd van die dag behoort te wees, kan uit ’n bord kos bestaan wat halfvol groente is, met ’n kwart van die bord gevul met maer proteïen (soos hoender sonder vel, maer vleis, vis of lensies) en ’n kwart daarvan stysel soos bruinrys, pap of ’n gebakte aartappel.
Goedkoper as jy slim koop
Spies wys daarop dat gesonde kos nie noodwendig duurder is nie. “ ’n Sak van tien appels kos sowat R20 – dit is R2 per appel – terwyl ’n enkele verwerkte peuselhappie maklik R12 kan kos.” Twee appels per dag kos dus minder as een verwerkte happie en die sakkie vrugte kan jou vyf dae lank van gesonde versnaperinge voorsien. Sy beklemtoon dat tuisgemaakte kos minder sout en suiker bevat en jou langer versadig hou.
Beplanning is sleutel
Vir gesinne beveel Spies aan dat ’n vaste maandelikse inkopielys opgestel word vir basiese produkte soos rys, pasta, mieliemeel, langlewe-melk, gevriesde vleis, ingemaakte bone, gesonde olies en speserye. ’n Weeklikse lys kan vars produkte soos volgraanbrood, vyf tot ses vrugte per persoon, minstens 1 kg groente per persoon, amasi of jogurt insluit.
As dit by maaltydvoorbereiding kom, stel sy voor dat die proteïen eerste gekook word, omdat dit die langste neem, en dat genoeg vir twee dae gaargemaak word. “Dit spaar tyd, verminder impulsaankope en verseker gesonde, bekostigbare etes by die huis.”
Spies se kernboodskap is: Met beplanning, eenvoudige resepte en tuisgemaakte etes kan gesond eet ’n praktiese, lekker én bekostigbare lewenswyse wees.
OFM cvs