On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Health

Verstaan verhouding tussen hormone, menopouse en kanker

───   09:00 Wed, 03 Dec 2025

Verstaan verhouding tussen hormone, menopouse en kanker | News Article
Verstaan die rol van hormone en menopouse. Foto: iStock

Menopouse gaan nie net oor warm gloede en breinbeneweldheid nie. Dit is ook ‘n tyd wanneer hormonale veranderinge die risiko van borskanker kan beïnvloed.

Vlooi Venter, kliniese verpleegspesialis by Kansa, sluit by Yolanda Maartens aan om te verduidelik hoe hormone, menopouse en kanker jou risiko kan beïnvloed.

Borskanker bly ongelukkig een van die grootste gesondheidsuitdagings vir Suid-Afrikaanse vroue. Die sleutel tot oorwinning? Kennis, waaksaamheid en vroeë opsporing.

Lorraine Govender, nasionale bestuurder: Gesondheidsprogramme by die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa), beklemtoon die risiko neem toe met ouderdom veral rondom en ná menopouse. Dit is ’n natuurlike lewensfase, maar dit is nie ’n tyd om agteroor te sit nie.

Vroeë opsporing is belangrik. Foto: Kansa

Menopouse

Dit is daardie biologiese oorgang wat tipies in ons 40’s en 50’s intree. Soos estrogeenvlakke daal ervaar ons die bekende simptome: warm gloede, nagsweet, buierigheid en verminderde beendigtheid. 

Onthou menopouse veroorsaak nie kanker nie. Dit is jou ouderdom wat jou risiko verhoog om enige kanker te ontwikkel.

HRT dilemma: Voor- en nadele

Baie vroue oorweeg hormoonvervangingsterapie (HRT) om menopousale simptome te verlig, maar let op die volgende: 

  • Risiko: Langtermyn gebruik (meer as drie tot vyf jaar) van gekombineerde estrogeen-progesteroonterapie kan die risiko van borskanker verhoog. Dit is omdat sommige borskankers hormoonsensitief is.

  • Goeie Nuus: Volgens Kansa val risikovlakke gewoonlik binne drie tot vyf jaar ná beëindiging van die behandeling terug na jou basislyn.

  • Meer as Net Kanker: Onthou, estrogeenafname beïnvloed ook been- en hartgesondheid wat jou risiko vir osteoporose, frakture en kardiovaskulêre siektes verhoog. HRT-besluite is kompleks en moet noukeurig bestuur word.

Kansa beklemtoon die belangrikheid daarvan om ten volle ingelig te wees.

Mediese dokter  

Voordat jy besluit oor HRT, of enige ander gesondheidstrategie, moet jy ’n deeglike gesprek met jou dokter hê. Govender sê hierdie gesprek moet die volgende oorweeg;

  • Persoonlike en familie kankerrisiko’s 

  • Kardiovaskulêre en lewergesondheid

  • Lewenstylfaktore (gewig, dieet, oefening, alkohol en tabak).

Vrae

  • Watter tipe en duur van HRT, indien enige, is geskik vir my?

  • Wat is my persoonlike risiko’s (familiegeskiedenis, hormoonblootstelling, lewenstyl)?

  • Watter siftingstoetse moet ek prioritiseer  tydens en ná menopouse?

  • Watter lewenstylveranderinge kan ek realisties aanneem om my risiko te verminder?

Hoe om risiko te verlaag

Die kragtigste wapen is vroeë opsporing want dit verbeter die uitkomste. Kansa stel die volgende voor: 

  • Handhaaf ’n gesonde liggaamsgewig.

  • Gereelde fisieke aktiwiteit.

  • Vermy alkohol- en tabakgebruik.

  • Hou tred met mammogramme en ander sifting.

Moenie wag nie en prioritiseer sifting vandag. Borskanker wag nie en jy moet ook nie!

Kansa se pleidooi

  • Verstaan die rol van hormone en menopouse.

  • Praat met jou dokter.

  • Neem vandag beheer oor jou gesondheid.

Ondersoeke

  • Kansa-sorgsentrums: Hier kan jy bekostigbare kliniese borsondersoeke kry om knoppe of onreëlmatighede te identifiseer. (Sommige mediese fondse betaal dit.)

  • Regeringsgesondheidsklinieke: Bied gratis kliniese borsondersoeke.

  • Mammogramme: Vroue ouer as 40 jaar word aangeraai om jaarlikse siftings te ondergaan. Kry toegang via openbare hospitaalborsklinieke (met ’n verwysingsbrief van ’n mediese beroep of ’n Kansa-verpleegster) of kontak die Radiologiese Vereniging van Suid-Afrika by www.rssa.co.za.

Gaan gereeld vir ondersoeke. Foto: Kansa

Vir meer besonderhede stuur ’n e-pos na vventer@cansa.org.za.

OFM  dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.