On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Health

Hoekom kners jy jou tande? Die antwoord is dalk nie stres nie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:27 Thu, 13 Aug 2026

Hoekom kners jy jou tande? Die antwoord is dalk nie stres nie | News Article
Carlo Grebe. Foto verskaf

Jy word soggens wakker met ’n hoofpyn, ’n stywe nek en ’n kakebeen wat seer of moeg voel en dink jy het dalk net sleg geslaap.

Wat jy moontlik nie besef nie, is dat jou tande dalk die hele nag hard gewerk het. Tande kners, of bruksisme, is ’n algemene probleem waarvan baie mense nie eens bewus is nie totdat die eerste simptome of sigbare skade begin wys.

Daar is egter verskeie redes waarom mense op hul tande kners, en spanning is nie noodwendig die grootste oorsaak nie, sê Carlo Grebe wat al 19 jaar as tandarts praktiseer.

Grebe se hoofpraktyk is Dentists@Memorial in Kimberley, maar hy werk ook by Dentists@Douglas op Douglas, De Necker Dentistry Century City in Kaapstad, De Necker Dentistry Melville in Johannesburg en I-Smile in Bloemfontein.

Die oorsaak van tande kners by kinders is meestal as gevolg van hul okklusie. Foto: iStock

Bruksisme is die onwillekeurige kners, skaaf, slyp of byt van die tande teen mekaar. Daar is verskeie moontlike oorsake, waaronder ’n kombinasie van genetiese, sielkundige en fisiese faktore, TMJ-probleme (die kaakgewrig), slaapapnee en ortodontiese probleme. Leefstylfaktore kan ook ’n rol speel. Die gebruik van te veel alkohol of kafeïen kan tot die probleem bydra.

Hoewel stres dikwels onmiddellik met bruksisme verbind word, sê Grebe dit is nie noodwendig die hoofrede waarom mense hul tande kners nie. “Die genetiese posisie en groei van jou skelet, saam met jou tande en ortodontiese faktore, is seker die grootste oorsaak.”

Dit beteken egter nie dat stres geïgnoreer moet word nie. Baie mense kners gedurende die dag as gevolg van stres, terwyl ander dit hoofsaaklik tydens slaap doen sonder dat hulle daarvan bewus is. “Mense wat gedurende die aand kners, word wakker met hoofpyn, lamheid, moegheid, ’n stywe nek, spierpyne of ’n seer kakebeen,” sê Grebe.

Daar is verskeie redes waarom mense op hul tande kners. Foto verskaf

Een van die grootste probleme met bruksisme is dat ’n persoon dit dikwels nie self agterkom nie. Met verloop van tyd kan die voortdurende druk op die tande en kakebeen egter sigbare gevolge hê. “Fisieke skade aan tande, soos emalje wat begin verweer en minder raak, is ’n goeie teken,” sê Grebe.

Die probleem strek egter verder as net afgeslyte tande. “Behalwe sensitiewe tande verminder dit oor ’n tydperk jou vertikale hoogte van jou byt en plaas dit druk op jou TMJ.

“Daarna begin hoofpyne, spierpyne en moegheid.” Wanneer iemand vir ’n lang tydperk aanhou kners, kan die krag wat op die tande uitgeoefen word eindelik ernstige skade veroorsaak.

Tande kners is nie altyd iets wat met een oplossing gestop kan word nie. Foto: iStock

Tande kan selfs kraak of breek. Hoewel bruksisme nie noodwendig direk tandvleisprobleme veroorsaak nie, kan dit wel ernstige probleme met die kakebeen en kaakgewrigte tot gevolg hê. Bruksisme is nie net ’n probleem wat volwassenes raak nie. Kinders kan ook hul tande kners, en dit hou dikwels verband met hoe hul tande en kake op mekaar pas.

“By kinders is dit seker meestal as gevolg van hul okklusie. Dit beteken hoe hul bo- en ondertande op mekaar byt. Tande hoef nie noodwendig skeef te wees om ’n probleem te wees nie. Al is die tande mooi reguit, kan die byt vertikaal diep wees of die bokaak onderontwikkeld wees, wat dan druk plaas op die TMJ en lei tot bruksisme.”

Hoewel dit algemeen onder kinders voorkom, sê Grebe hy sou dit nie as normaal beskryf nie. “Ouers moet nie wag totdat die probleem ernstig raak nie. Gee so gou moontlik daaraan aandag, veral as daar skade of simptome begin wys.”

Knersplaatjies is die vinnige opsie vir bruksisme. Foto: iStock

Die goeie nuus is dat daar behandelings beskikbaar is. Een van die vinnigste opsies is ’n knersplaatjie, ook bekend as ’n nagbeskermer. “Knersplaatjies is die vinnige opsie. Dit beskerm die tande teen mekaar en verminder ook simptome deurdat dit die vertikale hoogte van jou diep byt oopmaak en sodoende druk van die TMJ af wegneem.”

Vir sommige pasiënte kan ortodontiese behandeling egter ’n langertermynoplossing bied, veral wanneer die manier waarop die tande en kake op mekaar pas ’n onderliggende rol speel. Die eerste stap is om vas te stel waarom iemand kners.

“ ’n Tandarts kan tydens ’n ondersoek na tekens van bruksisme kyk. Die skade op jou tande en ook op X-strale wys dit. Meeste pasiënte sal jou inlig met die ondersoek dat hul kakebeen pyn of lam voel,” sê Grebe. Hy waarsku ook dat die skade nie noodwendig vanself sal verdwyn indien die probleem geïgnoreer word nie.

“Dit raak erger met tyd. Sommige pasiënte gaan later in ’n totale vasgeklemde posisie met hul kakebeen.” Vir mense wat vermoed hulle kners, is sy raad om nie sommer self aan te neem dat stres die enigste rede is nie. “Gaan vir ’n ordentlike TMJ-ondersoek en maak seker daar is nie ’n onderliggende oorsaak nie.”

Tande kners is nie altyd iets wat met een oplossing gestop kan word nie, tensy die oorsaak 100% vasgestel kan word, sê Grebe. “Maar dis gewoonlik ’n kombinasie van oorsake.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.