On Now
Weekends 13:00 - 16:00
Saterdag Siësta Olebogeng
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with Nico
Listen Live Streams

International

Skotse ‘eilandfamilie’ vier eerste baba in dekades

───   12:17 Fri, 25 Sep 2026

Skotse ‘eilandfamilie’ vier eerste baba in dekades | News Article
Duncan is die eerste baba wat in 34 jaar op North Ronaldsy gebore is. Foto: Alice Traill Ford/CNN

Die eerste baba in meer as 30 jaar is vroeër vandeesmaand op ’n afgeleë eiland in die Skotse argipel Orkney gebore.

Duncan Wilder Thorstein Traill Suárez Ford is op 15 September op die eiland North Ronaldsay gebore, 34 jaar ná die laaste geboorte hier. Sy ma, Alice Traill Ford, Jorge Suárez, haar verloofde, en hul gesin verdeel hul tyd tussen Costa Rica en die eiland.

Traill Ford sê die plan was eintlik dat Duncan in Costa Rica die eerste lewenslig sou aanskou. Kort nadat hulle op die eiland, wat minder as 5 km lank en omtrent 3 km breed is, geland het, het die geboorteplan egter verander.

“Ek het dadelik geweet dit sou die mees besonderse, magiese en ondersteunende geboorte wees wat ek hom kon gee,” sê sy. Haar familie het die eiland in 1727 gekoop. “Dit is my verbintenis met die eiland wat my elke jaar laat terugkeer, elke jaar sedert ek ’n baba was.”

Jorge Suárez en Alice Traill Ford saam met hul kinders Hera Stone en Duncan. Foto: Alice Traill Ford/CNN

“Ek voel hierdie eiland het ’n rol gespeel in my grootwordjare en dit is waarom ek hier, veral in die huis wat my voorouers gebou het, so ’n sterk gevoel van verbondenheid ervaar en hier tuis voel.” Sy het in  Holland House, wat haar voorouers gebou het, geboorte gegee.

Volgens 2024-syfers van die Skotse regering het die eiland ’n bevolking van 72 gehad. Traill Ford het aan CNN vertel daar woon nou 51 mense op die eiland. Almal is baie opgewonde oor Duncan se geboorte. “Hulle is soos ’n uitgebreide familie, dit voel soos ’n reuse en verlangse eilandfamilie.”

Sy skryf die lae geboortesyfer op die eiland toe aan onvoldoende gesondheidsorggeriewe. Daar is geen dokter of hospitaal op die eiland nie, slegs ’n verpleegkundige wat hier woon. “Ek glo die mense is dalk bang vir alles wat tydens ’n bevalling verkeerd kan loop. Daarom voel hulle veiliger in ’n hospitaal waar alles beskikbaar is om hulle te ondersteun indien iets sou skeefloop.”

Dit neem sowat twee uur en 40 minute per boot om die Orkney-vasteland te bereik. “In ’n noodgeval sal die kuswaghelikopter ’n pasiënt kom haal, andersins moet jy na Kirkwall op die vasteland reis.”

OFM Nuus sm/dg sm

•Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.