On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Health

Net 3 000 treë per dag kan Alzheimers vertraag

───   14:56 Mon, 19 Oct 2026

Net 3 000 treë per dag kan Alzheimers vertraag | News Article
Foto ter illustrasie

Navorsers het in twee afsonderlike studies bevindings gemaak wat hoop wek in die stryd teen Alzheimer se siekte.

In ’n Amerikaanse studie is vasgestel slegs 3 000 treë per dag kan help om die vordering van die siekte te vertraag en geheuefunksies langer te beskerm. Die nuwe navorsing wys matige liggaamlike aktiwiteit hou aansienlike voordele vir breingesondheid in, selfs by mense wat reeds vroeë tekens van die siekte toon.

Bykans 300 ouer Amerikaners is oor ’n tydperk van nege tot elf jaar gemonitor, berig The Conversation. Die deelnemers het reeds vroeë breinveranderinge gehad wat met Alzheimers geassosieer word. In die studie is bevind dat liggaamlike aktiwiteit nie die opbou van amiloïedplakette, waarop baie huidige Alzheimer-behandelings fokus, verminder het nie.

By mense wat aktief is, was daar eerder ‘n kleiner opbou van skadelike tau-proteïen in spesifieke dele van die brein, wat sterk verbind word met die geheueverlies en funksionele agteruitgang wat kenmerkend van Alzheimers is.

’n Grafika wat die verskil aantoon tussen ’n gesonde brein (links) en die brein van iemand wat ly aan Alzheimer se siekte. Illustrasie: Alzheimer’s Los Angeles

Volgens die navorsers het mense wat meer aktief was, byna die helfte minder kognitiewe en funksionele agteruitgang ervaar as minder aktiewe deelnemers. Die voordele het reeds by sowat 3 000 treë per dag begin intree, wat neerkom op ongeveer ’n halfuur se stap teen ’n matige tempo.

Die grootste voordeel is egter gevind by mense wat tussen 5 000 en 7 500 treë per dag aflê. Daarna het die beskermende effek afgeplat, wat beteken dat meer treë nie noodwendig groter voordele inhou. Dit wys die gewilde mikpunt van 10 000 per dag is nie noodwendig nodig om breingesondheid te bevorder nie.

Ander studies ondersteun die bevindinge. Britse navorsing het getoon gereelde fisieke aktiwiteit verminder die risiko van demensie met tussen 34% en 50%. In nog ’n groot studie is bevind sowat 3 800 treë per dag kan die risiko van demensie met ’n kwart verminder.

Slegs 3 000 treë per dag kan volgens navorsers moontlik help om die vordering van Alzheimer se  siekte te vertraag en geheuefunksies langer te beskerm. Foto: Veritas Care

Wetenskaplikes meen oefening help waarskynlik die brein op verskeie maniere, onder meer deur beter bloedsirkulasie, verbeterde hartgesondheid en die vrystelling van stowwe wat nuwe verbindings tussen breinselle bevorder.

Hoewel verdere navorsing nodig is, dui die jongste bevindings daarop dat selfs ’n daaglikse wandeling van ’n halfuur ’n eenvoudige maar doeltreffende manier kan wees om die risiko van geheueverlies en Alzheimer-verwante agteruitgang te verminder.

En wetenskaplikes van die Universiteit van Kentucky het in ander navorsing ’n verrassende ontdekking gemaak wat ook nuwe hoop bied vir lyers aan die siekte. Hulle het bevind slaapverlies wat met die toestand gepaard gaan, word moontlik nie hoofsaaklik deur die bekende amiloïedplakette in die brein veroorsaak nie, maar deur ooraktiewe immuunselle in die brein.

Alzheimers ontwrig hoofsaaklik diep droomlose slaap. Foto: Veritas Care

Alzheimer-pasiënte sukkel dikwels met ernstige slaapprobleme, wat geheueverlies en verwarring verder vererger. Wetenskaplikes het lank geglo die opbou van amiloïedplakette is die hoofrede vir hierdie probleme.

Luidens bevindinge wat gepubliseer is in die vaktydskrif Alzheimer’s & Dementia, is daar moontlik ’n ander skuldige: mikroglia, gespesialiseerde immuunselle wat normaalweg die brein beskerm. 

Wanneer hierdie selle amiloïedplakette opspoor, kan hulle ’n oormatige inflammatoriese reaksie veroorsaak wat die brein letterlik wakker hou.

Ekstra twee ure slaap

In eksperimente met muise wat Alzheimer-agtige breinveranderinge ontwikkel het, het navorsers sowat 87% van die mikroglia tydelik uitgeskakel met behulp van ’n middel wat oorspronklik vir kankerontwikkeling ontwikkel is. Die uitslag het die wetenskaplikes verstom.

Die muise het meer as twee ekstra ure slaap per dag gekry en aansienlik meer tyd in diep, herstellende slaap deurgebring. Die merkwaardigste deel van die ontdekking is dat die verbetering plaasgevind het sonder enige vermindering in die amiloïedplakette in die brein.

Prof. Shannon Macauley, wat die navorsingspan gelei het, sê die bevinding verander die manier waarop wetenskaplikes oor Alzheimers en slaapverlies dink. Sy meen dit wys dat dit nie noodwendig die plakette self is wat slaapprobleme veroorsaak nie, maar die brein se immuunreaksie daarop.

Die studie het ook getoon Alzheimers ontwrig hoofsaaklik die diep droomlose slaap, wat noodsaaklik is vir geheuevorming, leer en die verwydering van afvalstowwe uit die brein.

Hoewel die navorsing tot dusver slegs op muise gedoen is, ondersoek wetenskaplikes reeds of bestaande middels soos Metformin, wat vir diabetes gebruik word, mikroglia kan kalmeer sonder om die selle uit te skakel.

Kenners waarsku meer navorsing is nodig voordat die bevindinge op mense toegepas kan word, maar die ontdekking kan eindelik lei tot nuwe behandelings wat slaap, denkvermoë en lewensgehalte by Alzheimer-pasiënte verbeter.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.