Inspiration
Kollegas, leerders beskryf Aros se rektor as streng mentor─── ELSABÉ DE JAGER 12:43 Tue, 27 Jun 2023

“Hy was vir my ’n waardevolle klankbord en mentor wat altyd vriendelik en simpatiek maar tog ferm was. Hy het my as leier gevorm.”
Dit is die mening van dr. Jopie Breedt, oudstudent van prof. Kobus Mentz, wat in die vroeë 2000’s sy Ph.D.-studieleier was.
Mentz, wat op 1 Junie die rektorstoel by prof. Rikus Fick oorgeneem het aan die Akademie vir Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros), is ook iemand wat konstant met die jare ’n opregte mens gebly het.
“Almal wat hom teëgekom het, het sy kundigheid oor onderwys en bestuur, asook sy vriendelikheid, waardeer," sê Inge Venter, sy jare lange kollega aan die NWU.
Aros se nuwe ruim kampus in Montanapark, Pretoria. FOTO: Verskaf
Vir hom hang die sukses van ’n opleidingsinstansie grootliks af van die sinvolle interaksie tussen dosente, ondersteuningspersoneel en studente. Hy bring in sy gesprek met OFM ook hulde aan Fick, wat onthou sal word vir sy baanbrekerswerk die afgelope vier jaar.
Aros, ’n instansie waar studente uit alle uithoeke van die land opgelei word om hul onderwysroeping te verwesenlik, sê sy nuwe rektor was jare lank op verskeie maniere betrokke by die bevordering van Christelike onderwys. Hy het ook talle termyne gedien as voorsitter van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika se Deputate Christelike Onderwys, die kerk se sinodale kommissie wat toesig hou oor onderwys.
Onderwys speel ’n prominente rol in hierdie gesinsman en oupa van vier se lewe. Sy vrou, Elsa, is professor en navorsingsdirekteur van die Fakulteit Opvoedkunde aan die NWU. Tussendeur al sy verpligtinge berei Mentz voor vir sy tiende Twee Oseane-ultramarathon aanstaande jaar.
Die meeste van Aros se studente werk as onderwysassistente terwyl hulle afstandonderrig ontvang. Foto: Pixabay
V: Jy was ná ’n aantal jare in skoolonderwys byna 38 jaar verbonde aan die NWU se Fakulteit Opvoedkunde as dosent, navorser en direkteur. Watter hoogtepunte sal jy uitsonder?
A: Agt-en-dertig jaar is inderdaad ’n lang tyd. Ek het die volle oorgangstydperk van die PU vir CHO tot die totstandkoming van die NWU 20 jaar gelede beleef. Ek was 25 jaar by voorgraadse opleiding betrokke. Dit lê my steeds na aan die hart.
My fokus het later verskuif na die begeleiding van Meestersgraad- en Ph.D.-studente, asook na navorsing. ’n Hoogtepunt was om jaarliks ’n meesters- of doktorale student onder my leiding uiteindelik oor die verhoog te sien stap. Dit was my voorreg om meer as 30 van hulle daar te sien. Natuurlik het die paar duisend vóórgraadse studente op die verhoog my net so baie vreugde verskaf.
Nóg ’n hoogtepunt was die projeksamewerking met plaaslike en buitelandse kollegas. Een wat my bybly, is ’n internasionale navorsingsprojek oor die voorbereiding van skoolhoofde. Tien lande het saamgewerk en ek het die Suid-Afrikaanse komponent daarvan hanteer. Heelwat internasionale publikasies het hieruit voortgespruit. Al hierdie hoogtepunte was spanpogings waar kollegas en studente hande gevat en saamgewerk het.
Prof. Kobus Mentz het op 1 Junie as rektor by Aros oorgeneem. FOTO: Verskaf
V: Jy neem nou die leisels oor as rektor van Aros. As ek dit reg verstaan, is dit ’n instelling eksklusief vir die opleiding van onderwysers. Wat is Aros se bestaansrede as ander universiteite reeds sulke kursusse aanbied?
A: Aros is ’n private, Christelike hoëronderwysinstelling. Roepingsgedrewe studente word hier opgelei om die onderwysberoep met kundigheid te betree. Aros rus hulle toe om ’n verskil in die onderwyslandskap te maak. Ons het meer as 2 000 studente. Christelike hoër onderwysinrigtings is nie slegs beperk tot Suid-Afrika nie. In die VSA alléén is meer as 900 Christelike universiteite en kolleges.
‘Meer as 60% van die studente is onderwysassistente in skole landwyd’
Natuurlik bied ander universiteite in Suid-Afrika óók onderwysersopleiding aan, en die meeste is van hoë gehalte. By Aros glo ons dat ons perspektief, reformatories-Christelik, resoneer met mense wat vir Christelike onderwysersopleiding vra. Aros se karakter is Christelik, maar in besonder ook reformatories. Dit beteken ons vereenselwig ons sterk met die vyf solas van die reformasie: sola Scriptura (die Skrif alleen), sola Gratia (genade alleen), sola Fide (geloof alleen), sola Christus (Christus alleen) en soli Deo Gloria (aan God alleen die heerlikheid).
V: Is die model van onderrig webgebaseer of tradisioneel? Is daar enige taalvoorkeur?
A: Ons bied afstandonderrig met bykomende ondersteuning aan ons studente deur middel van kontaksessies, interaktiewe aanlynsessies, werksessies en ekstra klasse. Die onderrigtaal is Afrikaans. Dit is belangrik dat alle studente dieselfde leer- en onderrigervaring het. Ons kontakklasse word opgeneem en op die web geplaas vir volle toegang. Die e-klasstelsel is ’n gevorderde tegnologiese stelsel. Alle studiegidse, handleidings en ander kommunikasie word daar geplaas.
Die uniekheid van Aros se model lê daarin dat meer as 60% van die studente onderwysassistente in skole landwyd is. Hulle werk dus terwyl hulle studeer. So doen hulle waardevolle ervaring op.
V: Is studente hoofsaaklik van Pretoria?
A: Studente kom van oor Suid-Afrika heen. Bemarkers reis jaarliks duisende kilometers en besoek honderde skole om Aros bekend te stel. Kommunikasie tussen dosent en student vind nie slegs virtueel plaas nie. Kampusbesoeke word verwelkom. Aros het verlede jaar ’n pragtige nuwe kampus, ’n ware oase in die noorde van Pretoria, betrek.
V: Aros is ’n tersiêre instelling met sterk Christelike oortuigings. Hoe leef Aros, sy studente en dosente Christenskap prakties uit?
A: Ons beskou onderwys as ’n gawe uit die hand van God. Onderwysopleiding word gesetel in ’n Bybelse opdrag en singewing. Dié uitgangspunt vorm dan ook die ruggraat van ons waardegedrewe opleidingsprogramme vir onderwysers. Studente word begelei om die onderwys eerstens as ’n roeping van die Here te ervaar en te aanvaar.
Suid-Afrika het goed gemotiveerde en opgeleide onderwysers nodig in ’n land met meer as 70% Christene. Aros alumni bied beroepsgerigte opleiding en hulle leef hul Christelike waardes in die klaskamer uit. Ons afgestudeerdes is hoog in aanvraag in private en openbare skole. Die meeste werk in openbare skole.
Om jou vraag te beantwoord: ’n Arosstudent moet hom of haar vereenselwig met die karakter van Aros. Ons studente is lidmate van ’n groot verskeidenheid kerke.
V: Jou passie vir die onderwys en opleiding van onderwysers spreek nie net uit jou gerespekteerde akademiese betrokkenheid oor 38 jaar nie, maar ook uit jou sosiale meelewing op voetsoolvlak. Wat hoop jy om toe te voeg tot Aros?
A: Ná ’n kort rukkie in die amp is dit nie ’n maklike vraag nie. Ek hoop om ’n bydrae te lewer tot die vorming van duisende Arosstudente wat DV tydens my termyn hier gaan studeer. Ek wil voortbou op die goeie werk wat reeds oor 20 jaar gedoen is. Aros het in die vroeë 2000’s begin met drie studente. Ek wil my bydrae nie noodwendig maak op kwantitatiewe vlak deur getalle na te jaag nie. Ek wil kwaliteitsprosedures instel waar ons byvoorbeeld deur eksterne evaluering Aros as instansie kan meet teen ander hoër onderwysinrigtings landwyd, asook internasionaal.