On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight OFM
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

International

Vlieënde motor in Kalifornië bekend gestel

───   08:39 Wed, 26 Oct 2022

Vlieënde motor in Kalifornië bekend gestel | News Article
Die Alef Model A-vlieënde motor. FOTO: Alef Aeronautics

Die konsep van ’n vlieënde motor is nie nuut nie, maar ’n ambisieuse Amerikaanse maatskappy wil die eerste wees om dit op die mark vry te stel – binne net drie jaar.

Alef Aeronautics in Kalifornië het ’n vertikale opstyg- en landingsvoertuig onthul wat van die straat af kan opstyg.

Die Alef Model A is ’n ten volle elektriese voertuig met ’n gaas-bedekte bakwerk wat agt skroewe verberg, wat dit toelaat om vertikaal in die lug op te styg.

Die skroewe laat dit reguit in die lug vanaf ’n konvensionele pad opstyg, sonder dat ’n aanloopbaan nodig is.

Sodra dit in die lug is, kantel dit 90 grade sodat die bokant van die motor vorentoe kyk - en vlieg dan deur die lug teen tot 420km/h.

’n “Borrel” in die middel van die motor, waarin twee mense kan pas, draai om ’n as sodat die insittendes vorentoe kan kyk vir die vlug.

Jim Dukhovy, stigter van Alef Aeronautics, sê die motor sal $300 000 (sowat R5,5 miljoen) kos en dat produksie en aanvanklike aflewerings in 2025 gaan begin.

Die motor, wat onlangs aan die media onthul is, het ’n ry-afstand van 322km en ’n vliegafstand van 160km. Die maatskappy het nie beeldmateriaal van ’n toetsvlug bekend gemaak nie.

Dukhovy het die Alef Model A beskryf as “die wêreld se eerste regte vlieënde motor” omdat dit op ’n gewone straat kan ry en nie van ’n spesiale aangewese area, soos ’n lughawe, hoef op te styg nie.

“’n Vlieënde motor moet ’n motor wees, wat beteken dit kan op ’n gewone straat ry en in ’n gewone parkeerplek parkeer. En dit moet ook vertikaal kan opstyg,” het hy aan die BBC gesê.

“As jy ’n lughawe nodig het om op te styg, watter probleem los jy op? En hoekom is dit dan ’n vlieënde motor?”

Volgens die maatskappy is die Alef Model A ontwerp om op straat te ry, vertikaal op te styg wanneer nodig en bo-oor verkeer te vlieg as ’n oplossing vir verkeersopeenhopings.

As die motor ’n hindernis op die pad sou teëkom, kan dit moontlik daaroor vlieg en land, sonder om 90 grade te kantel.

Die maatskappy erken dat dit slegs in sekere gebiede kan opstyg, wat beteken dat hulle met verkeers- en lugowerhede sal moet saamwerk om toestemming te kry om te mag vlieg.

Die motor het “skoenlapperdeure” wat opwaarts eerder as uitwaarts oopmaak, en renmotor-styl sitplekke.

Mail Online

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.