On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

International

Zimbabwe maak geskiedenis met eerste satelliet

───   08:43 Mon, 07 Nov 2022

Zimbabwe maak geskiedenis met eerste satelliet | News Article

Zimbabwe se eerste satelliet, ZimSat-1, wat geskeduleer is om op Sondag 6 November gelanseer te word, sal vandag sy historiese reis na die ruimte begin, nadat ‘n brandalarm by die ruimtehawe die lansering vertraag het.

Volgens die Zimbabwiese koerant The Sunday Mail, sal ZimSat-1 sy reis na die ruimte begin met die Northrop Grumman (NG-18 Cygnus)-ruimtetuig wat vanaf die Mid-Atlantiese streeksruimtehawe by die Nasionale Lugvaart- en Ruimte-administrasie (Nasa) se fasiliteit op Wallops-eiland in Virginia, VSA, sal opstyg.

Painos Gweme, koördineerder van die Zimbabwe National Geospatial and Space Agency (Zingsa) sê die satelliet sal die aarde vir die Internasionale Ruimtestasie verlaat, waarvandaan dit later vandeesmaand ontplooi sal word.

"Die ontplooiing van ZimStat-1 in die ruimte sal deur die Japanse Kibo-module ontplooi word. Dit gebeur twee of drie weke ná die lansering en ons het dit vir 21 November geskeduleer,” sê Gweme.

Die geskiedkundige geleentheid is deur The Sunday Mail-koerant uitgewys as 'n stap wat verskeie ontwikkelingsvoordele vir Zimbabwe inhou.

Daar word beoog dat die bekendstelling van ZimSat-1 Zimbabwe sal help met grond-, water- en mineraalkartering, insluitend weervoorspelling, infrastruktuurbeplanning, grensveiligheid en rampvoorkoming.

Die satelliet het 'n multispektrale kamera en beeldklassifikasie-instrument, sowel 'n toestel om seine van amateurradio-operateurs te stuur en te ontvang.

ZimSat-1 is deur Zimbabwiese ingenieurs gebou, in samewerking met die Kyushu-Instituut van Tegnologie in Japan. Drie Zimbabwiese wetenskaplikes was in Japan om vir die lansering voor te berei.

Zimbabwe hoop om met behulp van die satelliet georuimtelike tegnologie te ontplooi om sy grense te bestuur, mineraalhoeveelhede te bereken en telekommunikasiemaatskappye te help om dienste te verbeter.

ZimSat-1 word ondersteun deur die Joint Global Multi-Nation Birds Satellite-projek, 'n multinasionale program wat lande help om hul eerste satelliet te bou.

Benewens die satelliet self, ondersteun Birds 'n gratis toepassing (BIRDS-NEST) waarmee satellietbeelde van ZimSat-1 op slimfone afgelaai kan word. 

LEES MEER: US lanseer satelliet na Internasionale Ruimtestasie

Die ontwikkeling kom 23 jaar nadat Suid-Afrika die eerste Afrika-satelliet, SunSat-1, in 1999 gelanseer is. Die 64kg-mikrosatelliet is destyds deur personeel en studente aan die Universiteit van Stellenbosch gebou.

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.