International
Gino (22) is wêreld se oudste hond─── 08:02 Wed, 23 Nov 2022
’n Kaliforniese hond met die naam Gino is deur Guinness-wêreldrekords aangewys as die wêreld se oudste lewende hond nadat bevestig is dat die woef ouer as 22 jaar is.
Die hondjie is op 24 September 2000 gebore en in 2002 deur Alex Wolf aangeneem, berig die New York Post.
Wolf (40) skryf Gino se lang lewe toe aan “'n gesonde, gebalanseerde dieet, gereelde besoeke aan die veearts en sy eie lewenslus”.
“Hy kry baie liefde. Ek dink hy is net ‘n sterk hond,” sê Wolf. “Ek is so bly ons het hom destyds gekry. Hy is die beste.”
“Toe hy jonger was, het hy daarvan gehou om my ouers se groot agterplaas saam met ons ander honde te verken, om te gaan stap, op motorritte langs die kus te gaan met sy kop by die venster uit, of op die gholfbaan rond te hardloop.”
Deesdae verkies Gino middagslapies voor die kaggel, om aan salmlekkernye te peusel en in 'n waentjie in die woonbuurt rondgetrek te word, aangesien sy sig nie meer is wat dit was nie.
