On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Michael
Listen Live Streams

International

Hengelaar vang goudvis van 30kg

───   16:57 Wed, 23 Nov 2022

Hengelaar vang goudvis van 30kg | News Article
Andy Hackett met sy reusevangs. FOTO: BlueWater Lakes

’n Britse hengelaar het ’n monstergoudvis van 30kg ingekatrol - moontlik die wêreld se grootste goudvis.

Die New York Post berig dat Andy Hackett (42) die yslike oranje vis, heel gepas met die bynaam die Wortel, gevang het terwyl hy by die BlueWater-meer in Champagne, Frankryk, gehengel het. BlueWater is een van die wêreld se bekendste karpvisplase.

"Ek het altyd geweet die Wortel is daar, maar het nooit gedink ek sou dit vang nie," sê Hackett, 'n maatskappydirekteur van Worcestershire.

Die Fanta-kleurige natuurfrats is nie 'n egte goudvis nie, maar eintlik 'n hibriede spesie van leerkarp en koikarp.

Die Wortel is glo 20 jaar oud en is sowat 15 jaar gelede in die meer vrygelaat “as iets anders vir die hengelaars om te probeer vang,” sê die woordvoerder van die BlueWater-meer, Jason Cowler.

"Sedertdien het sy aanhou groei, maar sy wys nie gereeld haar gesig nie," sê hy. “Sy is baie ontwykend.”

Die Wortel het die weegskaal op ‘n stewige 30,3kg getrek, amper 14kg swaarder as wat voorheen as die wêreld se grootste goudvis beskou is, wat in 2019 deur Jason Fugate van Minnesota in die VSA gevang is.

“‘Ek het geweet dit is ’n groot vis toe dit my aas vat en heen en weer en op en af beweeg het,” vertel Hackett. “Toe dit sowat 30m verder na die oppervlak kom, het ek gesien dit is oranje.

"'Dit was briljant om dit te vang, maar dit was ook pure geluk." Hy het 25 minute geworstel om die vis in te katrol.

Ná sy vangs het Hackett vir foto's geposeer en die Wortel weer in die meer vrygelaat. Die Brit het toe sy kleurvolle vangs op 'n gepaste wyse gevier deur 'n koppie tee te drink.

"Baie geluk aan Andy met 'n puik vangs," sê Cowler, wat berig het dat die Wortel tans in "uitstekende gesondheid en toestand is."

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.