International
Nieu-Seeland verbied volgende generasie om te rook─── 16:44 Wed, 21 Dec 2022
Wetgewing wat deur Nieu-Seeland se parlement aanvaar is, beteken dat enigeen wat ná 2008 gebore is, nooit sigarette of tabakprodukte sal kan koop nie.
Die BBC berig dat die aantal mense wat tabakprodukte mag koop, elke jaar sal verminder. Teen 2050 sal 40-jariges byvoorbeeld "te jonk" wees om sigarette te koop.
Nieu-Seeland se minister van gesondheid, dr. Ayesha Verrall, sê dit is 'n stap "na 'n rookvrye toekoms".
“Duisende mense sal langer en gesonder lewe en die gesondheidstelsel sal NZ$5 miljard beter daaraan toe wees omdat die land nie siektes wat deur rook veroorsaak word, hoef te behandel nie,” sê sy.
Nieu-Seeland se aantal rokers is reeds die minste in die land se geskiedenis, met net 8% van volwassenes wat daagliks rook, volgens regeringstatistiek wat in November vrygestel is. Dit is ‘n verlaging van 9,4% ‘n jaar tevore.
Die regering hoop dat die Wetsontwerp op Rookvrye Omgewings die getal rokers teen 2025 tot minder as 5% sal verminder, met die uiteindelike doel om die praktyk heeltemal uit te skakel.
Die wetsontwerp is ook ontwerp om die aantal kleinhandelaars van tabakprodukte wat gerook word, van 6000 tot 600 landwyd te beperk en nikotienvlakke in produkte te verminder om dit minder verslawend te maak.
"Dit beteken nikotien sal verminder word tot nie-verslawende vlakke,” sê dr. Verrall.
Die nuwe wetgewing verbied nie vape-produkte nie, wat onder jongmense meer gewild is as sigarette.
Kritici van die wetsontwerp waarsku dat die beleid 'n swart mark in tabakprodukte kan aanwakker.
“Niemand wil mense sien rook nie, maar die realiteit is dat daar mense is wat rook en die Arbeidersparty se verbod gaan probleme veroorsaak,” sê Brooke van Velden van die ACT-party.
