International
Suid-Korea se eerste wenteltuig stuur foto's van aarde, maan─── 17:39 Wed, 04 Jan 2023
Suid-Korea se eerste maanwenteltuig, genaamd Danuri, het swart-en-wit foto’s van die aarde en die maanoppervlak geneem, sê die land se nasionale ruimtesentrum.
Danuri - 'n samestelling van die Koreaanse woorde vir "maan" en "geniet" - is in Augustus 2022 op 'n SpaceX-vuurpyl gelanseer en het verlede maand 'n wentelbaan om die maan betree.
Die foto’s, wat tussen 24 Desember 2022 en 1 Januarie 2023 geneem is, wys die maanoppervlak en aarde, sê die Koreaanse lugvaartnavorsingsinstituut in 'n verklaring.
Die foto’s en video's sal gebruik word om moontlike terreine vir 'n maanlanding in 2032 te bepaal.
Danuri wentel elke twee ure om die maan.
Die wenteltuig sal in Februarie sy wetenskaplike missie begin, wat die kartering en ontleding van maanterrein insluit, en die meet van magnetiese sterkte en gammastrale.
Dit sal ook eksperimentele "ruimte-internet"-tegnologie toets deur foto's en video's na die aarde oor te dra.
President Yoon Suk-yeol sê Danuri se prestasies is 'n "historiese oomblik" in die land se ruimteprogram.
Suid-Korea het ambisieuse planne vir die buitenste ruimte, insluitend die landing van ruimtetuie op die maan teen 2032 en op Mars teen 2045.
