International
Maatskappy betaal $1000 om kaas voor slaaptyd te eet─── 06:39 Tue, 24 Jan 2023

’n Amerikaanse webwerf, wat die kwaliteit van matrasse evalueer, soek deelnemers wat bereid is om $1000 betaal te word om kaas te eet voordat hulle gaan slaap.
Volgens UPI is die webwerf, genaamd Sleep Junkie, op soek na vyf sogenaamde "suiweldromers" vir 'n studie wat poog om die aanname, dat die inneem van kaas en ander suiwelprodukte voor slaaptyd jou nagmerries gee, aan te spreek.
"Ons wil ook kyk of verskillende soorte kase verskillende soorte uitwerkings het,” lui die maatskappy se mediaverklaring.
Die vyf gekose suiweldromers sal gevra word om hul slaappatrone skriftelik te evalueer volgens die kwaliteit van hul slaapsessie en energievlakke deur die dag. Hulle moet ook verslag gee oor drome en nagmerries, indien enige, nadat hulle verskillende kaasprodukte ingeneem het voordat hulle gaan slaap.
"Ons is bewus daarvan dat dit nie net nagmerries is wat 'n goeie nag se slaap kan verwoes nie, daarom wil ons vasstel of daar 'n verband is tussen verskillende soorte kaas en ander simptome wat jou onrustig kan laat voel," sê Dorothy Chambers, woordvoerder van Sleep Junkie.
Die studie sal vir drie maande duur. Aansoeke word tot 10 Februarie aanvaar.