International
Mattel stel pop met skoliose bekend─── 16:47 Wed, 01 Feb 2023
Die speelgoevervaardiger Mattel het Barbie se kleinsus, Chelsea, ontwerp as ‘n pop met skoliose.
Die pop het ‘n sigbare kromming van die ruggraat en 'n verwyderbare rugstut. Die vervaardiger sê die doel agter die Chelsea-pop is om rugstutte te normaliseer en kinders aan te moedig om ander wat aan ruggraatverkromming ly, te aanvaar.
Sky News berig dat die span by Mattel met ‘n neurochirurg, dr. Luke Macyszyn, wat spesialiseer in kinders se komplekse ruggraatafwykings, saamgewerk het. Hy het die ontwerpers gedurende die pop se ontwikkeling geadviseer.
Die 15 cm-pop dra 'n pienk rok en wit skoene en het 'n verwyderbare rugstut. Haar bruin hare is in golwe gestileer.
Verskeidenheid voorkomste
Lisa McKnight, vise-president en wêreldhoof van Barbie and Dolls by Mattel, sê: "Ons glo in die krag van verteenwoordiging en is daartoe verbind om poppe in 'n verskeidenheid voorkomste te skep sodat kinders hulself in Barbie kan sien - en nou in 'n reeks wat Barbie se kleinsus, Chelsea, vier.”
"Ons Chelsea-reeks bied oneindig meer maniere om stories te vertel terwyl dit kinders 'n manier gee om hul empatie en sosiale vaardighede deur poppespel te ontwikkel."
Mattel is in die verlede gekritiseer omdat sy poppe “te maer en seksueel” uitgebeeld word, waarna die maatskappy begin het om 'n groter verskeidenheid poppe te skep, waarvan sommige ook kontroversie ontlok het.
Van dié poppe sluit in: ‘n pop wat ‘n rolstoel gebruik, ‘n plus-grootte pop, ‘n pop wat ‘n hijab dra en gebaretaalpoppe.
In 2022 het die maatskappy ook ‘n Barbie met gehoorapparate bekend gestel.
