On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

International

Italiaanse hof bepaal kinders hoef nie grootouers te sien

───   08:59 Thu, 02 Feb 2023

Italiaanse hof bepaal kinders hoef nie grootouers te sien | News Article
Italië se hoogsgeregshof in Rome. FOTO: Wikipedia

Italië se hoogste hof het beslis dat kinders onder geen verpligting is om hul grootouers te sien as hulle dit nie wil doen nie en dat ‘n “onwelkome en ongewenste verhouding nie afgedwing kan word nie”.

Die uitspraak van die hooggeregshof hou verband met 'n appèl deur die ouers van twee kinders teen die beslissing van 'n laer hof wat die kinders gedwing het om tyd saam met hul grootouers aan vaderskant deur te bring, berig The Guardian.

Die jare lange saak is deur die grootouers en 'n oom aan vaderskant aanhangig gemaak. Hulle klagte was dat hulle nie die kinders kon ontmoet nie "weens die struikelblokke wat deur die ouers vasgestel is" en met wie hulle in 'n gesinskonflik gewikkel was.

Die grootouers het die saak in die jeughof en Milaan se appèlhof gewen, wat in 2019 ontmoetings tussen hulle en die kinders in die teenwoordigheid van 'n maatskaplike werker beveel het. Albei die howe het die ouers gewaarsku oor die moontlike sielkundige skade aan die kinders om hulle daarvan te ontneem om hul familielede te sien.

Die ouers het aangevoer dat die kinders weens die voortslepende spanning in die familie nie die ontmoetings waardeer het nie, en het hulle na die hooggeregshof gewend om die besluit om te keer.

In sy uitspraak het die hooggeregshof gesê hoewel daar “geen twyfel” is dat die twee kinders by ‘n band met die geslagslyn sal baat nie, het die kinders hul teenkanting teen ‘n verhouding met hul grootouers uitgespreek en kan hulle nie gedwing word om hulle te sien nie, veral nie in 'n omgewing van konflik nie.

Die hof het daarom beslis dat die belange van die kinders bo dié van die grootouers gestel moet word en dat “ ’n onwelkome en ongewenste verhouding” nie afgedwing kan word nie, nog meer so omdat die kinders op 12-jarige ouderdom nie in staat is om te kan onderskei nie.

Ingevolge 'n familiewet wat in 2006 in Italië ingestel is, het 'n kind die reg om 'n beduidende verhouding met hul grootouers te handhaaf, selfs al skei hul ouers. Grootouers het ook die reg om 'n hof te vra om vas te stel of 'n ouer se besluit om hulle toegang tot hul kleinkinders te weier skadelik is vir die kind se welstand en dus onwettig is.

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.