International
Bakker breek wêreldrekord met koekrok wat jy kan dra én eet─── 16:51 Thu, 02 Feb 2023

Om te bewys dat jy jou trourok kan dra en dit ook kan eet, het Natasha Lee Fokas, ‘n bakker van Switserland, die grootste draagbare koekrok in die wêreld geskep wat teen 'n indrukwekkende 131,15 kg ingeweeg het.
Sy het haar rok, gemaak van tradisionele koekbestanddele, op 15 Januarie 2023 in Bern, Switserland, tydens ‘n jaarlikse bruilofskou bekend gestel.
Die rekordkoekrok is aan die einde van ‘n trourok-modevertoning uitgebring.
Natasha, wie se bakkery, SweetyCakes, in pasgemaakte koeke spesialiseer, sê sy was ‘n paar jaar gelede besig om ‘n koek te versier toe sy skielik ‘n “mal idee” gekry het: “Hoe wonderlik sou dit wees as 'n hele trourok van koek gemaak is?
“'n Paar dae later was my jongste dogter die model vir die eerste poging. Dit was nie perfek nie, maar perfek vir die eerste keer.”
‘n Beoordelaar van Guinness-wêreldrekords was teenwoordig om haar gewigtige trourok as ‘n wêreldrekord te verklaar.
Die minimum-vereistes was dat die koek minstens 68 kg moes weeg en die model wat die koekrok dra, moes vyf meter loop sonder dat dit uitmekaar val.
Die koekrok is deur ‘n aluminiumraam met metaalboute en wieletjies onderaan ondersteun. Die korset van die rok was van 50 kg se gips gemaak en die boonste laag van die rok van fondant en met blomme versier.
Houtplankies het verder die koek in plek gehou.
Uitgesluit die model se gewig, die gipskorset, interne ondersteuning en die metaalboute, was die koekgedeelte van die gedoente altesame 131,15 kg.
Nadat die finale gewig goedgekeur is, is Natasha met ‘n Guinness-wêreldrekordsertifikaat beloon.
Aangesien Guinness se riglyne bepaal dat die kos nie tot niet mag gaan nie, is die koek aan besoekers en uitstallers van die bruilofskou uitgedeel.