International
Oekraïne wil Turkye help─── 15:22 Tue, 07 Feb 2023
President Wolodimir Zelenski van Oekraïne het 'n bevel uitgevaardig om met noodleniging in die suidooste van Turkye te help ná 'n aardbewing in die vroeë oggendure, wat 7,8 op die Richterskaal gemeet het.
Zelenski het gesê sy land is gereed om hulp aan die "vriendelike" Turkse mense te verleen terwyl hy ook sy "meegevoel met die families van die slagoffers" betuig het.
'n Verklaring op Zelenski se amptelike webwerf verklaar dat hulpmiddele aan die land gestuur sal word "om te help om die gevolge van die noodsituasie wat in die Republiek van Turkye ontwikkel het, te oorkom".
Sky News berig Turkye was 'n sleutelbemiddelaar tussen Rusland en die Oekraïne, wat gehelp het om 'n ooreenkoms te beding om toe te laat dat Oekraïense graan na die res van die wêreld uitgevoer kan word.
Volgens BBC News sukkel reddingswerkers in swaar reën en sneeu terwyl hulle in 'n stryd teen tyd gewikkel is om oorlewendes te vind. Temperature sal na verwagting later die week tot onder vriespunt daal.
Meer as 5 000 Turke en Siriërs is reeds dood en meer as 15 000 is beseer. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het gewaarsku die tol kan dramaties styg namate reddingswerkers meer slagoffers vind.
Swaar masjinerie het deur die nag in die stad Adana gewerk, met ligte wat die ineengestorte geboue verlig. ’n Latere skudding het 7,5 op die Richterskaal aangeteken.
Terwyl naskokke voortduur, grawe redders in sommige gebiede met hul kaal hande deur puin, met die huidige weerstoestande wat soekpogings belemmer.
OFM-nuus
