International
Troetelmeerkatte ontsnap, op vrye voet in Nederlandse dorp─── 06:42 Wed, 22 Mar 2023
'n Eksotiese troeteldiereienaar in 'n Nederlandse dorp vra inwoners om op die uitkyk te wees vir 'n drietal ongewone diere - sy troetelmeerkatte wat ontsnap het.
Jan Knoppert sê die meerkatte, inheems aan Suider-Afrika, het uit hul omheinde agterplaas in 's-Gravenzande, Zuid-Holland, ontsnap, berig NL Times.
Knoppert, wat ook pikkewyne en flaminke aanhou, sê die diere het sowat twee weke gelede ontsnap en is al verskeie kere in die woonbuurt opgemerk, maar vlug altyd van die toneel af voordat hy kan opdaag om hulle te probeer vang.
’n Bioloog van die AAP-stigting se eksotiese dierereservaat, Eva Schippers, sê daar is kommer oor die welstand van Afrikadiere in die kouer Nederlandse klimaat. Sy sê die diere sal waarskynlik ook sukkel om hierdie tyd van die jaar vir insekte en klein knaagdiere te jag.
Knoppert sê hy is nie so bekommerd dat sy troeteldiere sal honger ly nie, omdat hulle gesien is waar hulle kos eet wat vir hulle in die woonbuurt uitgesit is. “Almal ken my hier, die hele dorp sorg eintlik vir hulle.”
Dit is tans wettig om meerkatte in Nederland aan te hou, maar 'n nuwe wet vir eksotiese troeteldiere, wat geskeduleer is om op 1 Januarie 2024 in werking te tree, maak nie voorsiening vir meerkatte nie.
Huidige eienaars van diere wat nie op die lys is nie, sal wel toegelaat word om hulle vir die duur van die diere se lewens aan te hou.
