International
Seun slaap 3 jaar in tent vir welsyn én wêreldrekord─── 06:18 Thu, 30 Mar 2023
‘n Seun van Brittanje wat £100 (sowat R2230) vir die hospies wou insamel waar sy buurman weens kanker dood is, het uiteindelik £700 000 (meer as R15,6 miljoen) ingesamel én ‘n wêreldrekord verbeter – deur in ‘n tent te slaap.
Max Woosey was tien jaar oud toe sy buurman, Rick Abbott, in 20202 weens kanker dood is. “Voordat hy dood is, het hy vir my ’n tent gegee en gesê ek moet ’n avontuur hê,” het Woosey aan Guinness-wêreldrekords gesê.
Hy het ‘n fondsinsamelingprojek aanlyn begin en sy tent-avontuur op sosiale media gedeel. Mettertyd het hy as die “seun in die tent” begin bekend staan, en sy sosiale media-roem het daartoe gelei dat hy toegelaat is om sy tent op te slaan om nagte deur te bring in plekke soos die Londense dieretuin, die tuin by Downingstraat nr. 10 en die Twickenham-rugbystadion.
Hy het die wêreldrekord behaal vir die meeste geld wat deur kampering deur ‘n individu ingesamel is, sê Guinness-wêreldrekords.

Ná presies drie jaar in die buitelug sê hy is hy gereed om binnenshuis te slaap, en ‘n nuwe avontuur aan te pak.
"Ek het die beste drie jaar van my lewe gehad. Ek het wonderlike mense ontmoet en briljante ervarings gehad.
“Ek wou net ‘n avontuur hê en £100 insamel. Dit is malligheid dat dit soveel aandag gekry het, maar ek hoop dit laat mense sien dat kinders tot baie meer in staat is as wat mense dink."
