International
Italiaanse vulkaan dreig om uit te bars─── 10:20 Sat, 10 Jun 2023

Die Campi Flegrei-vulkaan in die suide van Italië dreig om uit te bars, sê navorsers aan díe land se Nasionale Navorsingsinstituut vir Geofisika and Vulkaanstudies en University College London.
Die grondoppervlak onder die kusdorpie Pozzuoli rys die afgelope dekade bykans 10cm ’n jaar, sê navorsers. Hulle het ook ’n reeks aanhoudende klein aardbewenkies opgemerk, insluitend 600 in April.
Sowat 600 000 mense leef bo-op die vulkaan, wat nie soos ’n berg lyk nie, maar eerder ’n depressie in die grond vorm. Dit is sowat 14km wes van Napels geleë en lê gedeeltelik onder die Baai van Pozzuoli.
Navorsers aan University College London het ’n model geskep “om die patrone van aardbewings en grondopheffing te verstaan, en het tot die gevolgtrekking gekom dat dele van die vulkaan tot byna breekpunt gestrek het.”
“Ons nuwe studie bevestig dat Campi Flegrei nader beweeg aan ’n uitbarsting,” sê die studie se hoofskrywer, Christopher Kilburn van University College London Natuurwetenskappe in ’n persverklaring.
“Maar dit beteken nie ’n uitbarsting is gewaarborg nie. Die skeur mag dalk ’n kraak in die aardkors oopmaak, maar magma moet steeds op die regte plek deurdruk vir ’n uitbarsting om plaas te vind,” volgens Kilburn.
“Dit was die eerste keer dat ons ons model, wat gebaseer is op die fisika van hoe rotse breek in regte-tyd, op ’n vulkaan toegepas het,” sê Kilburn. “Ons sal nou ons prosedures moet aanpas om die kanse te bereken van nuwe roetes wat oopgaan vir magma en gas om die oppervlak te bereik.”
Die vulkaan het laas in 1538 uitgebars, maar het in die laaste paar dekades ál hoe meer geologiese aktiwiteit getoon.
Navorsers het in 2017 University College London se model vir die eerste keer gebruik en sê die Campi Flegrei-vulkaan het ’n toenemende aantal klein aardbewenkies ervaar, in lyn met die model se voorspellings.
OFM-nuus