On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight OFM
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

International

Parlementslede beslis – ‘Boris Johnson het gelieg’

───   12:39 Tue, 20 Jun 2023

Parlementslede beslis – ‘Boris Johnson het gelieg’ | News Article
Boris Johnson beskuldig van “ellendige wangedrag”.

Britse parlementslede het Maandagaand oorweldigend beslis dat die vorige premier Boris Johnson gelieg het oor partytjies in 10 Downing Street tydens die Covid-19-inperkings.

’n Verdoemende verslag deur die laerhuis se voorregtekomitee is deur die parlementslede goedgekeur.

Ná ’n vyf uur lange debat op Johnson se 59ste verjaarsdag, het lede 354 teen 7 gestem ten gunste van die voorregtekomitee se bevindings. Verskeie Konserwatiewe Party-lede, insluitende die huidige premier, Rishni Sunak, het nie gestem nie.

Johnson se voorganger Theresa May, sê die stem is ’n “klein maar belangrike stap om mense se vertroue in die parlement te herstel”.

May het haar party aangespoor om “te wys dat ons bereid is om op te tree wanneer een van ons eie, hoe senior ook al, geweeg en te lig bevind word”, het sy gesê in ’n klaarblyklike verwysing na Sunak en sy besluit om nie te stem nie.

Johnson en sy ondersteuners het die verslag uitgemaak as ’n “heksejag”.

Die oudminister Jacob Rees-Mogg sê die komitee het “doelbewus gepoog om die mees ongunstige interpretasie van Johnson se aktiwiteite” te maak.

Maar Sunak, wat belowe het om die parlement se integriteit te herstel, sê die komitee se tweeparty-lede het hul werk “deeglik gedoen”.

Sunak het ook geweier om voor te sê wat lede moet besluit voordat daar oor die verslag gestem is.

“Dit is ’n saak vir die laerhuis eerder as die parlement. Dis ’n belangrike onderskeid en dit is hoekom ek nie enigeen wil beïnvloed voor die stemmery nie,” het hy aan ITV gesê.

Die leier van die Arbeidsparty, Keir Starmer, het druk op Sunak geplaas om op te hou op die draad sit tussen die verslag se ondersteuners en díe van Johnson in die Konserwatiewe Party.

“Hy moet leierskap toon en ons wys waar hy staan hiermee,” het Starmer aan ITV gesê. Hy het Johnson ook beskuldig van “ellendige wangedrag”.

OFM Nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.