On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Ashmund
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

International

‘Geluide onder water’ gehoor in soektog na vermiste watertuig

───   10:56 Wed, 21 Jun 2023

‘Geluide onder water’ gehoor in soektog na vermiste watertuig | News Article
Die tuig het net genoeg suurstof aan boord tot Donderdagmiddag. FOTO: Twitter/BBC

Reddingswerkers op soek na die vermiste Titan-onderwatertuig het geluide op hul sonar gehoor in die Noord-Atlantiese Oseaan, naby waar die tuig spoorloos verdwyn het.

“ ’n Kanadese P-3 vliegtuig het geluide onderwater in die omgewing opgetel. Die afstandbeheerde voertuie wat onderwater soek, is geskuif na waar die geluide gehoor is in ’n poging om hul oorsprong op te spoor,” sê die Amerikaanse kuswag op Twitter.

Die afstandbeheerde soektog “het sover negatiewe resultate opgelewer, maar ons gaan voort,” sê die kuswag. Dié afdeling van die Amerikaanse weermag sê die data van die Kanadese vliegtuig is met kenners van die Amerikaanse vloot gedeel, om die soektog se volgende stappe te help beplan.

Dit word as bemoedigend beskou dat die vyf toeriste aan boord van die onderwatertuig van 6,5m nog lewend mag wees. Hulle was Sondag onderweg na die wrak van die Titanic, wat meer as 3km onder die oppervlak lê, toe alle kommunikasie met hulle verbreek is. Die tuig het net genoeg suurstof aan boord tot Donderdagmiddag.  


Amerikaanse en Kanadese kuswagskepe en -vliegtuie fynkam ’n gebied van sowat 20 000 vierkante kilometer aan die kus van Newfoundland, Kanada.

Kort voor die aankondiging deur die kuswag, het die tydskrif Rolling Stone  ’n interne e-pos aangehaal wat deur amptenare van die Amerikaanse Department vir Binnelandse Veiligheid gestuur is, wat sê ’n Kanadese vliegtuig in die soektog “hoor klapgeluide in die omgewing elke 30 minute”.

Die Titan, het drie toeriste aan boord wat sowat R4,5 miljoen elk betaal het: die Britse miljardêr Hamish Harding, die Pakistanse sakeman Shahzada Dawood en sy seun Suleman (19).


Die uitvoerende hoof van OceanGate Expeditions, Stockton Rush, en die Franse duikbootoperateur Paul-Henri Nargeolet is ook aan boord. Harding en Nargeolet is lede van The Explorers Club, ’n groep wat betrokke is by wetenskaplike ekspedisies.

“Daar is rede vir hoop, gegrond op die data  en die geluide wat in die omgewing waargeneem is,” sê The Explorers Club in ’n verklaring.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.