International
Wagner-groep het bande met 14 Afrikalande─── 12:02 Wed, 28 Jun 2023
Die omstrede Wagner- militêre groep, wat verbind word met moorde, martelings en verkragtings in die Sentraal-Afrikaanse Republiek in 2018, het ook verbintenisse met verskeie ander Afrikalande.
Die Europese mediagroep Politico berig Rusland se minister van buitelandse sake, Sergei Lawrof, het belowe dat Wagner se bedrywighede met “vriende en vennote”, insluitende Mali en die Sentraal-Afrikaanse Republiek, onverstoord sal voortgaan ondanks die huursoldategroep se mislukte rebellie teen die Kremlin en President Wladimir Poetin.
Wagner se huursoldate het Saterdag onder leiding van sy hoof, Jefgeni Prigozjin, na Moskou opgeruk, maar ’n oproer is ná onderhandelinge vermy.
President Aleksander Loekasjenko van Belarus sê dit is danksy sy bemiddeling tussen Prigozjin en Poetin dat die oproer voorkom kon word, berig The Washington Post.
Prigozjin het die opmars na Moskou herroep en Poetin het sy huursoldate drie keuses gegee, om uit Belarus te onttrek, by die Russiese weermag aan te sluit, of huis toe te gaan.
Prigozjin het na Belarus uitgewyk en is tans ’n gas van Loekasjenko.
Wagner laat Rusland voordeel trek uit Afrika
News24 berig Welina Tsjakarowa, 'n geopolitieke strateeg, sê Wagner bied vir Rusland 'n strategiese voordeel in Afrika.
"Die Wagner-netwerk van ongeveer 20 000 tot 25 000 soldate wat in Afrika werk, gee Rusland 'n strategiese geopolitieke en geo-ekonomiese voordeel op dié hulpbronryke vasteland,” sê Tsjakarowa op Twitter.
Wagner het 'n bevestigde voetspoor in 14 Afrikalande, wat wissel van militêre en politieke kwessies tot logistieke en ekonomiese bydraes.
Wagner het uit Mosambiek onttrek ná ’n poging om die Islamitiese Staat in die oliegasryke Cabo Delgado-provinsie in 2019 te help beveg.
In Eritrea verskaf Wagner militêre opleiding en toerusting en gebruik hy die land as ’n logistieke basis vanweë sy nabye ligging aan die see.
Wagner se grootste voetspoor op die vasteland is in die Sentrale-Afrikaanse Republiek, waar hy militêre operasies uitvoer, militêre toerusting verskaf en regeringsmagte oplei.
Hy is in beheer van die president en die regering se veiligheid en verskaf politieke adviesdienste aan die regering, terwyl hy ook besig is met goud- en diamantmynbedrywighede met 'n geskatte inkomste van R18,3 miljard.
Wagner se bedrywighede in Mali is soortgelyk aan dié in Sentrale-Afrikaanse Republiek, terwyl onderhandelinge oor militêre bystand in Burkina Faso aan die gang is.
News24 berig dat Human Rights Watch inligting van Libiese agentskappe ontvang het, wat Wagner verbind met die gebruik van verbode landmyne in dié land.
Wagner is vermoedelik betrokke by mynaktiwiteite in Zimbabwe en het voorheen mynregte in Madagaskar aangevra.
In die oorloggeteisterde Soedan is hy besig met mynaktiwiteite, politieke inmenging en inligtingsoperasies.
In 'n onderhoud met Russia Today het Lawrof gesê die Wagner-groep se verbintenisse in Mali en die Sentrale-Afrikaanse Republiek is op regeringvlak ooreengekom en bly dus geldig. Volgens hom het dié twee lande Wagner se hulp ingeroep toe “die Franse en ander Europeërs eenvoudig hul militêre basisse in die twee lande gesluit het wat veronderstel was om te help met die bekamping van terrorisme.
Amerika het nuwe sanksies aangekondig wat gemik is op Wagner se mynaktiwiteite in Afrika sodat hy homself nie meer so maklik kan befonds nie.
Reuters berig die Amerikaanse tesourie beskryf Wagner se bedrywighede in Afrika as ’n wisselwerking tussen Rusland se paramilitêre bedrywighede, ondersteuning vir die behoud van outoritêre regimes en die uitbuiting van natuurlike hulpbronne."
