On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight OFM
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

International

Titan-wrakstukke uit seegraf herwin

───   10:24 Thu, 29 Jun 2023

Titan-wrakstukke uit seegraf herwin | News Article
Die reddingsending het geëindig toe stukke puin sowat 487m van die Titanic-wrak gevind is. FOTO: Kanadese Pers/AP

Die wrak van die Titan-onderwatertuig is aan wal gebring nadat dit byna twee weke gelede in die Atlantiese Oseaan ingeplof het en vyf mense dood is.

Nuwe foto’s wys verskeie stukke metaalrommel wat van die skip Horizon Arctic by die Kanadese hawe in St John’s, Newfoundland, afgelaai word.

Wrakstukke van die Titan, wat van die seebodem naby die wrak van die Titanic herwin is, het onder meer ’n groot, wit stuk geboë metaal ingesluit, asook ander stukke puin met kabels en ander meganiese dele.

Niamh Lynch van Sky News het berig die wrakstukke is met groot seile bedek voordat dit deur hyskrane weggelig is. Menslike oorskot is in die wrakstukke van die Titan gevind, het die Amerikaanse kuswag gesê.

Vyf mense is dood, insluitend drie Britse burgers, vermoedelik weens ’n rampspoedige inploffing sowat 2 500m onder seevlak toe die tuig op pad was na die wrak van die Titanic.


’n Omvangryke soek-en-reddingsoperasie is op 18 Junie begin nadat die Titan kommunikasie met sy moederskip, die Polar Prince, verloor het – ’n uur en 45 minute ná die begin van hulle reis. Die duikboot is as vermis aangemeld agt uur nádat kommunikasie verloor is. Die reddingsending het egter vyf dae later geëindig toe stukke puin sowat 487m van die Titanic-wrak gevind is. Titan-ondersoekers “neem ook voorsorgmaatreëls” indien van die liggame op die seebodem gevind word.

Drie Britse burgers was aan boord, onder andere die miljardêr Hamish Harding en sakeman Shahzada Dawood, asook sy 19-jarige seun Suleman. Shahzada se vrou het Dinsdag gesê die twee was “beste vriende” wat “saamhoort”.


Die uitvoerende hoof van OceanGate, Stockton Rush. FOTO: Twitter

Die Titanic-kenner Paul-Henri Nargeolet en die uitvoerende hoof van OceanGate, die maatskappy wat die duikboot besit, Stockton Rush, is ook weens die inploffing dood.

Die Amerikaanse kuswag het ’n ondersoek van stapel gestuur na die oorsaak van die inploffing, terwyl die Royal Canadian Mounted Police gesê het hulle ondersoek die vyf sterftes.

Veiligheidsondersoekers van die Transportation Safety Board van Kanada het navraag gedoen by Titan se hoofondersteuningskip, die Polar Prince, nadat dit Saterdag in die St John’s-hawe vasgemeer het.

OFM Nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.