Click on the warning image to view this post
International
Lauren Dickason ‘het haar kinders uit liefde vermoor’─── 08:24 Wed, 26 Jul 2023
Die verdediging het sy saak in die Lauren Dickason-moordsaak in Nieu-Seeland geopen en aan die jurie gesê dat Dickason gedink het sy het haar drie dogters uit liefde doodgemaak.
Dickason (42) word daarvan aangekla dat sy die sesjarige Liane en die tweejarige tweeling Maya en Karla in 2021 in Timaru vermoor het.
1news berig sy het skuld ontken en die verdediging voer aan dit was tydelike waansin. Adv. Anne Toohey vir die verdediging het aan die jurie gesê Dickason se besluit om hulle dood te maak, was impulsief. Sy het dit nie beplan nie.
"In haar kop het sy hulle uit liefde doodgemaak want sy wou hulle nie alleen agterlaat nadat sy haar eie lewe geneem het nie. Sy was oortuig dit was die regte ding om te doen. Selfs toe Liane haar gevra het om dit nie te doen nie en haar herinner het dat sy ’n goeie ma is, het sy geen emosionele reaksie daarop gehad nie.”
Op die vraag van die regsverteenwoordiger: "Hoekom het sy haar drie pragtige dogters vermoor nadat sy hulle deur in vitro-behandelings gekry het?" het Toohey gesê drie kenners sal later dié vraag beantwoord.
“Lauren was daardie aand geestesongesteld. Daar is geen twyfel daaroor nie. As die jurie bevind sy het die moorde gepleeg weens nageboorte depressie is dit nie moord nie maar ‘infanticide’.” Sy sê as die jurie bevind dat sy nie besef het dit is moreel verkeerd om haar kinders te vermoor nie, is sy ontoerekeningsvatbaar en moet sy vrygespreek word.
“Lauren het aan ’n psigiater gesê sy wil nie haar kinders sonder ’n ma los nie en dat sy nie wou hê haar kinders moet ly omdat sy so ’n slegte ma is nie.” Sy is die dag nadat sy hulle vermoor het in die Hillmorton-hospitaal opgeneem. Sy het geweier om te eet en het later net 47 kg geweeg. Sy moes 24 uur dopgehou word en kon nie alleen gelaat word nie.
“Vir ’n lang tyd ná die moorde het Dickason aan psigiaters gesê dat terwyl sy skuldig voel en berou het, sy steeds voel dit is die beste vir haar dogters dat hulle dood is,” sê Toohey.
Getuies vir die verdediging het reeds begin getuig.
Die moordbeskuldigde Dickason het gedink die gesin het ’n slegte besluit geneem deur uit Suid-Afrika na Nieu-Seeland te emigreer, het die hooggeregshof in Christchurch Dinsdag gehoor. Sy het ook gesê net voordat sy en haar man, Graham, met hul drie dogters kon emigreer, het sy van haar medikasie afgegaan omdat sy funksioneel gevoel het.