On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Ashmund
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

International

Meeste jong mense glo hul optrede kan klimaatbeleid verbeter

───   DANE BEISHEIM 12:17 Mon, 04 Sep 2023

Meeste jong mense glo hul optrede kan klimaatbeleid verbeter | News Article
Unicef wil die stemme van kinders en jongmense bevorder en versterk. Foto: Unsplash/Mika Baumeister

Byna 70% van jong mense glo hul optrede kan die klimaatbeleid verbeter.

Kinders, adolessente en die jeug kan klimaat- en omgewingsbeleide beïnvloed. Dit is volgens 70% van jongmense wat gereageer het op die jongste United Nations Children's Fund (Unicef) U-Report-peiling in Suid-Afrika.

Ten spyte van die optimisme het die bevindinge ook aan die lig gebring dat 31% van die respondente steeds meer ondersteuning nodig het om beleid meer effektief te beïnvloed.


Sowat 41% persent het gesê dat hulle nie die opleiding ontvang het of die vaardighede ontwikkel het wat nodig is om te reageer op klimaatsverandering en die verwante impakte daarvan nie.

"Dit is hoekom dit so belangrik is dat kinders hul stemme laat hoor, want dit is hulle wat dit eerstehands ervaar en dit is hulle wat die toekoms ingaan en beleid moet beïnvloed," het Toby Fricker, Unicef Suid-Afrika se hoof van kommunikasie en vennootskappe, gesê.


Die peiling het ook getoon dat 39% van die respondente baie oor die klimaatkrisis op skool geleer het, terwyl nog 39% gesê het dat hulle nie genoeg geleer het nie en 'n verdere 13% het niks geleer nie.

Twee derdes van die respondente het óf saamgestem, óf was nie seker nie, toe hulle gevra is of hul toekoms in gevaar is as hulle nie leer oor klimaatsverandering en hoe om te reageer nie.



Slegs een kwart het nie saamgestem met die noodsaaklikheid om kennis en kapasiteit te verbeter om op klimaatverwante kwessies te reageer nie.

Hierdie bevindinge val saam met die Afrika-klimaatberaad wat vandag in Nairobi, Kenia, begin, na aanleiding van die Afrika-jeugklimaatvergadering waar jongmense hul idees, oplossings en vrae geopper het om hulself in die hart van die wêreldwye stryd teen klimaatsverandering te plaas.

Dit is juis knders wat die meeste deur klimaat- en omgewingskwessies geraak word. Foto: Unsplash/USGS

"Dit is net nóg 'n oomblik waar ons as Unicef die stemme van kinders en jongmense wil bevorder en versterk, want dit is hulle wat die meeste deur klimaat- en omgewingskwessies geraak word. Hulle is diegene wat dit kan verander en werklik aan 'n beter, meer leefbare planeet vir hulself kan bou soos hulle grootword."

Die beraad duur van 4 – 8 September met die tema ‘Dryf groen groei en finansieringsoplossings vir Afrika en die wêreld’.

OFM Nuus/Dane Beisheim

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.