On Now
Weekends 20:00 - 22:00
Sunday Night OFM
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

International

Robbe verken New York-dieretuin tydens oorstromings – VIDEO

───   08:08 Sat, 30 Sep 2023

Robbe verken New York-dieretuin tydens oorstromings – VIDEO | News Article
Die avontuurlustige robbe in die New York-dieretuin. Foto: Facebook/Central Park Zoo - Julie Larsen Maher

Goewerneur Kathy Hochul het ’n noodtoestand afgekondig ná oorstromings en New Yorkers aangemoedig om tuis te bly.

Oorstromings in die stad New York, in Amerika, het drie robbe in die Central Park-dieretuin die geleentheid gebied om oor hul versterkte glasomheining te swem en die res van die dieretuin te verken, berig The New York Post.

Die robbe baljaar in hul swembad in die New York-dieretuin. Foto: Facebook/Central Park Zoo - Julie Larsen Maher

Volgens beamptes het die watervlak in só ’n mate gestyg dat die robbe oor hul omheining kon swem. Die rob Sally het die geleentheid benut om die wêreld anderkant haar swembad te verken. 

Die dieretuinpersoneel het haar gemonitor op haar tog, waarna sy na haar bekende omgewing teruggekeer het, het Jim Breheny van die Wildlife Conservation Society se Zoos and Aquarium, wat toesig hou oor vier dieretuine en die stad se akwarium, gesê. Die belangrikste is dat die robbe nooit die dieretuin se sekondêre omheining oorgesteek het nie.

Teen 15:00 het die water in die dieretuin begin terugtrek en alle diere was veilig in hul kampe, het Breheny gesê. Geen personeellede was in gevaar tydens die storm nie, en die stad se vier dieretuine is gesluit sodat werknemers daarop kon fokus om diere veilig te hou.

New York oorstroom; noodtoestand afgekondig

Stortreën het Vrydag in New York en die omliggende streek geval, wat oorstromings veroorsaak het. Kinders het na die boonste verdiepings van hul skole gevlug, metro-lyne is gesluit en groot paaie het in mere verander. Goewerneur Kathy Hochul het ’n noodtoestand afgekondig en New Yorkers aangemoedig om tuis te bly. Diegene wat in kelders woon, is gewaarsku om vir die ergste voor te berei.

Staats- en stadsleiers het inwoners gesmeek om nie die storm te onderskat nie, wat binne minute ontaard het in ’n "lewensgevaarlike reënvalgebeurtenis". Burgemeester Eric Adams het gesê die storm “is iets wat ons nie ligtelik kan opneem nie". 


Hoewel die stad se inwoners grootliks onkant gevang is, het die meeste gehoor gegee en talle het tuis gebly.

Waarskuwings van die Nasionale Weerdiens is deur die loop van die dag uitgereik, wat herhaaldelik kitsvloedwaarskuwings uitgereik het.


Die waarskuwing het deur die aand van krag gebly, en die goewerneur het op 'n nuuskonferensie bestuurders van voertuie gewaarsku, ondanks ’n onderbreking in die storm. Die reën was onvoorspelbaar en dit was nie heeltemal duidelik watter gebiede oornag die swaarste getref sou word nie.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.