On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

International

Woede oor Gasa weerklink oor die wêreld

───   08:55 Thu, 04 Apr 2024

Woede oor Gasa weerklink oor die wêreld | News Article
Sewe mense is Maandag in ’n Israeliese lugaanval dood toe hulle kos in Gasa afgelewer het. Photo: X

“Ek dink jy kan die frustrasie in Biden se verklaring aanvoel.”

Amerika se pres. Joe Biden en die Israeliese premier, Benjamin Netanyahu, sal na verwagting Donderdag (4/4) met mekaar praat, het ’n Amerikaanse amptenaar gesê. Dit sal hul eerste oproep wees sedert sewe hulpwerkers of vrywilligers van ’n noodlenigingsorganisasie, wat voedselhulp in die beleërde Gasastrook verskaf het, Maandag in ’n lugaanval dood is.

Die oproep kom nadat Biden sy verontwaardiging uitgespreek het oor die dood van die vrywilligers van die VSA-gebaseerde groep, die World Central Kitchen. Hy het gesê Israel moet meer doen om hulpwerkers en burgerlikes te beskerm.


Bron: Al Jazeera

Sewe mense is Maandag in ’n Israeliese lugaanval dood toe hulle kos in Gasa afgelewer het. Die liggame van ses buitelanders – drie Britse burgers, ’n Poolse burger, ’n Australiër en ’n Kanadese-Amerikaanse burger – is Woensdag uit die Gasa-strook na Egipte vervoer voor hul repatriasie, het Egipte se staatsbeheerde Qahera TV berig. Hul Palestynse bestuurder is ook dood en sy oorskot is aan sy familie oorhandig vir sy begrafnis in Gasa.

Die oorledenes is geïdentifiseer as die Palestyn Saifeddin Issam Ayad Abutaha (25); die Australiër Lalzawmi (Zomi) Frankcom (43); die Britte John Chapman (57), James (Jim) Henderson (33) en James Kirby (47); die Pool Damian Sobol (35); en die Kanadese-Amerikaanse burger Jacob Flickinger (33).

Netanyahu het gesê die Israeliese weermag het “per ongeluk” die hulpwerkers in die lugaanval in Gasa getref. Biden het egter ’n koor van internasionale woede gelei, en Dinsdag (3/4) het hy een van sy sterkste verklarings tot nog toe oor Israel se optrede uitgereik sedert die oorlog teen Hamas begin het ná die Hamas-aanvalle in Israel op 7 Oktober.


Biden het gesê hy is “woedend en hartseer” oor die sterftes, en bygevoeg: “Voorvalle soos gister s’n moet eenvoudig nie gebeur nie.” Die Withuis het erken dat Biden toenemend gefrustreerd raak oor Israel se versuim om hulpwerkers en burgerlikes te beskerm, ondanks herhaalde versoeke aan Netanyahu.

“Ek dink jy kan die frustrasie in Biden se verklaring aanvoel,” het John Kirby, woordvoerder van die Amerikaanse nasionale veiligheidsraad, aan verslaggewers gesê.

Biden en Netanyahu het laas op 18 Maart gepraat toe die Amerikaanse president die Israeliese leier gevra het om nie die suidelike stad Rafah aan te val nie. Die Withuis het gesê Biden steun egter steeds Israel se “reg om homself te verdedig”.

’n Israeliese afvaardiging sal Washington volgende week besoek om die kwessie te bespreek. Netanyahu het vroeër die besoek gekanselleer uit protes teen die VSA, wat ’n mosie van die Verenigde Nasies (VN) ondersteun het vir ’n wapenstilstand in Gasa, maar Netanyahu het later weer ingestem.

Antonio Guterres, VN-hoof, het Maandag se aanval as “gewetenloos” en “onvermydelik” beskryf – die gevolg van die manier waarop die oorlog gevoer word.

Israel se gewapende magtehoof, Herzi Halevi, het die voorval ’n “ernstige fout” genoem, wat hy op nagtelike “wanidentifikasie” blameer het. “Ons is jammer vir die onbedoelde skade aan die lede van die WCK,” het hy in ’n videoboodskap bygevoeg.

Netanyahu het vroeër belowe die “tragiese saak” sal “tot die einde toe” ondersoek word. Die liefdadigheidsorganisasie het gesê hulle rou oor die verlies van die sewe “helde” en “lieflike siele”. Daar word beweer dat hulle dood is in ’n “geteikende aanval” wat gedoen is ten spyte daarvan dat die groep sy bewegings met Israeliese magte gekoördineer het.


Ná die hulpwerkers se dood het die liefdadigheidsorganisasie bedrywighede opgeskort en ’n skip wat voedselhulp van Ciprus na Gasa vervoer het, het teruggedraai na die Mediterreense eiland met ongeveer 240 ton voorraad wat nie afgelaai is nie.

Talle wêreldleiers het intussen dié dodelike lugaanval op Gasa veroordeel. Minstens 203 hulpwerkers is sedert 7 Oktober in Gasa vermoor, volgens die Aid Worker Security Database.

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.