On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

International

Trump eerste oudpresident in misdaadverhoor

───   11:05 Mon, 15 Apr 2024

Trump eerste oudpresident in misdaadverhoor | News Article
Skets: Twitter

“Hierdie saak is dalk die enigste van 88 kriminele aanklagte teen Trump, oor vier afsonderlike sake, wat voor die presidensiële verkiesing in November verhoor sal word.”

Die voormalige Amerikaanse president Donald Trump sal Maandag – met die uitsondering van ’n hofingryping ter elfer ure – die VSA se eerste oudpresident word wat op aanklagte van misdaad verhoor word nadat hy swyggeld aan ’n porno-ster oor hul beweerde verhouding betaal het. 

Trump het elke regsmiddel tot sy beskikking gebruik om vier aktiewe strafsake teen hom van die hand te probeer wys, af te water of uit te stel. 

Hierdie saak is dalk die enigste van 88 kriminele aanklagte teen Trump, oor vier afsonderlike sake, wat voor die presidentsverkiesing in November verhoor sal word.

Die ander drie sterk aanklagte teen hom in ander jurisdiksies is na bewering vertraag deur ’n korrupte regter, ’n hooggeregshof wat voete sleep en ’n distriksaanklaer se twyfelagtige optrede in ’n reeds komplekse saak. 

Baie meen egter dit is belangrik vir die Amerikaanse demokrasie dat Trump – bes moontlik die Republikeine se kandidaat vir 2024 – gedwing word om voor die verkiesing ten minste sommige van sy beweerde kriminele dade voor ’n jurie te verdedig.

Donald Trump en Stormy Daniels. Foto: Skermgreep/The Late Show 

Kort voor die 2016-verkiesing wou Trump ’n storie laat verdwyn oor sy beweerde verhouding met Stephanie Gregory Clifford, beter bekend as Stormy Daniels, die bloufilmaktrise of porno-ster. 

Hy het na bewering sy jare lange prokureur en beeldpoetser Michael Cohen beveel om Daniels deur ’n frontmaatskappy om te koop vir haar stilswye. Daarna het die Trump-organisasie $420 000 in terugbetalings in paaiemente aan Cohen goedgekeur, wat verband hou met die swyggeld. Trump het na bewering die betalings versteek deur dit as regskoste aan te dui. 

The New York Times het hierdie tydlyn saamgestel:


Die verhoor in die New Yorkse Hooggeregshof wentel dus om bewerings dat Trump sakerekords vervals het as deel van ’n skema om die betaling van $130 000-swyggeld in 2016 aan Daniels te verberg, wat sê sy het jare tevore ’n buite-egtelike verhouding met Trump gehad.

Die vervalsing van sakerekords is op sigself ’n oortreding kragtens New Yorkse wetgewing, maar dit kan lei tot strafregtelike vervolging indien die misdryf gepleeg word met die “opset om ’n ander misdaad te pleeg of met die pleging daarvan te help of dit te verberg”.

In sy klagstaat beweer Alvin Bragg, Manhattan-distriksaanklaer, dat Trump gelieg het oor die betalings om die Verkiesingswet te oortree, wat die misdaad tot ’n (strafregtelike) misdryf verhef. Bragg beskuldig Trump, wat sowat ’n jaar gelede aangekla is van 34 aanklagte van die vervalsing van sakerekords, dat hy tussen Augustus 2015 en Desember 2017 met die hulp van Cohen ’n slinkse tegniek gebruik het, die beweerde “catch and kill”-skema.

Trump het dit gedoen om skadelike inligting – wat Daniels en die Playboy-model Karen McDougal betrek het – voor die 2016-presidentsverkiesing van kiesers te weerhou.

Die verhoor is aanvanklik geskeduleer om op 25 Maart te begin, maar dit is tot Maandag (15/4) uitgestel om Trump se span tyd te gee om na sommige dokumente te kyk wat onlangs verkry is. Die swyggeldverhoor waarby Daniels en McDougal betrokke is, sal begin met die proses om twaalf jurielede te kies, plus plaasvervangers. Regter Juan Merchan het gesê hy verwag dat die verhoor sowat ses weke sal duur.

Wat is die aanklagte?

Trump word deur 34 aanklagte in die gesig gestaar, wat die vervalsing van sakerekords in die eerste graad insluit. Ingevolge New York-wetgewing is ’n persoon skuldig aan daardie misdaad wanneer hul rekords vervals word met die doel om ’n ander misdaad te pleeg of te verberg. 

Die distriksaanklaer beweer Trump en ander het verkiesingswette oortree om ’n onwettige skema uit te voer om die 2016-verkiesing te beïnvloed, deur negatiewe inligting oor hom te koop en te onderdruk.

Tronkstraf?

Die vervalsing van sakerekords in die eerste graad is ’n klas E-misdryf, met ’n maksimum vonnis van vier jaar gevangenisstraf. Die vonnis wat ’n beskuldigde uiteindelik kry, is egter dikwels veel minder as die maksimum. Trump se ouderdom en skoon misdaadrekord  kan ook in sy guns tel in enige moontlike vonnisoplegging.

Sy antagonisme teen voorsittende regter Juan Merchan en ander wat met die saak verband hou – insluitend die regter se dogter – kan egter teen hom werk.

“Ek dink daar is ’n aansienlike risiko dat hy skuldig bevind sal word en dat hy ’n vonnis van gevangenisstraf opgelê sal word,” sê Norm Eisen, ’n regsontleder wat Demokrate tydens Trump se eerste vervolging bygestaan het.

Trump kan voortgaan om aan die verkiesing deel te neem, selfs al word hy skuldig bevind en tronk toe gestuur. As hy skuldig bevind word, kan dié 77-jarige oudpresident gevonnis word en tyd in New York se berugte Rikers Island-gevangenis of ’n staatsgevangenis uitdien.

Bronne: 

CNBC: https://www.cnbc.com/2024/04/11/trump-to-face-trial-criminal-hush-money-charges-what-to-know.html

CNN: https://edition.cnn.com/2024/04/14/politics/timeline-trump-stormy-daniels-hush-money-dg/index.html

Slate: https://slate.com/news-and-politics/2024/04/stormy-daniels-prosecution-stronger-than-i-thought.html

The Guardianhttps://www.theguardian.com/us-news/2024/apr/14/donald-trump-hush-money-trial-timeline

OFM Nuus cg/





@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.