On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Pulane
Listen Live Streams

International

Derduisende Suid-Afrikaners stem in buiteland

───   08:30 Sun, 19 May 2024

Derduisende Suid-Afrikaners stem in buiteland | News Article
Suid-Afrikaners het in Quebec, Kanada, gestem. Foto: Facebook

“As jy nie optimisties is nie, wat het jy nog?"

Suid-Afrikaners in verskillende lande regoor die wêreld het opgedaag om in die algemene verkiesing te stem.

Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het meer as 78 000 Suid-Afrikaners aansoek gedoen om hul spesiale stem in die buiteland uit te bring.

Die grootste Suid-Afrikaanse kiesersbevolking in die buiteland is in Londen, met 24 535 kiesers wat daar geregistreer het.

“Vanweë die groot kiesersbevolking het die kommissie twee dae van spesiale stemming vir Londen bepaal,” het die OVK in 'n verklaring gesê.

Suid-Afrikaners in Londen sal op Saterdag 18 Mei en Sondag 19 Mei van 07:00 tot 21:00 kan stem.

Die OVK het ook op Saterdag 18 Mei stemure by die sendings in Washington DC en New York verleng. Die stemure is 07:00 tot 21:00.

Ander stede met groot Suid-Afrikaanse stemgeregtigde bevolkings sluit in:

Suid-Afrika se 120 buitelandse missies, insluitend hoë kommissies, ambassades en konsulate wêreldwyd, is omskep in stemlokale vir Vrydag en Saterdag – en afhangend van die tydsones, Sondag.

Hayley Reichert, die stigter van Operation Watershed, ’n kiesersvoorspraakgroep in die buiteland, het volgens ECR gesê die afstande wat afgelê moet word om te gaan stem is ’n probleem vir sommige expats.

“Baie mense weet dat hulle eenvoudig nie by hul buitelandse sendings kan uitkom nie, so dit is 'n groot rede hoekom ons nie die getalle mense het wat in die buiteland geregistreer is nie. Jy moet na jou naaste buitelandse sending reis om jou stem uit te bring.

“Mense in die Kaaimanseilande sal byvoorbeeld na New York of Jamaika moet vlieg. Mense sal treine moet haal of oor lande moet vlieg en dit is eenvoudig nie haalbaar nie.

Kiesers by die Suid-Afrika-huis in Londen. Foto: Facebook

“Hier in Londen was ek ook in direkte kontak met die Suid-Afrikaanse Hoë Kommissaris, en hulle moes 'n padsluiting van 'n pad langs die gebou reël vanweë die groot aantal Suid-Afrikaners wat die naweek hul stem kom uitbring.


“Ek weet dat hulle die aantal personeel en stemlokale vermeerder het, en ons het 24 535 Suid-Afrikaners wat geregistreer is om in Londen te stem; die totale wêreldwye Suid-Afrikaanse getal is 78 902.”


Baie kiesers in die tou het Suid-Afrikaanse rugbyhemde, pette en serpe gedra, terwyl ander hulself in die landsvlag drapeer. Musiek gee die geleentheid ’n basaargevoel en daar is sigbare steun  vir verskeie politieke partye.


Baie dra DA-plakkers. Een groep dra rooi barette en het hul steun vir die EFF en sy leier Julius Malema verklaar. Ten spyte van al die mededingende faksies, vier almal patriotiese trots. Iemand in die tou het aan AFP gesê: “As jy nie optimisties is nie, wat het jy nog?"

Die ANC was nie sonder steun nie, ’n gesin geklee in kleurvolle tradisionele drag het hul stem vir die regering uitgebring weens kommer dat nuwe regerings “geneig is om hul sakke vol te maak voordat hulle vir die mense werk”, maar stilweg hoop hulle op ’n koalisieregering. “Ons wil steeds hê ANC moet daar wees.”

Die omskakeling van oorsese stemme van ’n spesiale na ’n gewone stem kan volgens Reichert meer mense aanmoedig om aan verkiesings deel te neem.

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.