On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Pulane
Listen Live Streams

International

Suid-Afrika rou saam met Iran – Ramaphosa

───   08:31 Mon, 20 May 2024

Suid-Afrika rou saam met Iran – Ramaphosa | News Article
Pres. Ebrahim Raisi van Iran is Sondag dood. Foto: X

“Ons sluit aan by Iran in hierdie oomblik van rou.”

Pres. Ebrahim Raisi, wat bekend staan as die “slagter van Teheran”, is dood nadat die helikopter waarmee hy gereis het in mistige weer in ’n bergagtige gebied in die noordweste van Iran neergestort het.

CNN berig Iran se regering het bevestig dat Raisi in die ouderdom van 63 in ’n helikopterongeluk gesterf het. Hossein Amir-Abdollahian, minister van buitelandse sake, en nog sewe insittendes is ook in dié ongeluk dood. 

Opperleier ajatolla Ali Chamenei, wat die hoogste gesag in Iran het, het vyf dae van rou afgekondig vir die ontslape president, wat daarvan beskuldig is dat hy een van die vier regters was wat derduisende politieke gevangenes laat teregstel het in 1988 ná die oorlog met Irak. Iran het vandag nog nie dié grootskaalse teregstelling erken nie, berig Hindustan Times.

Raisi het Sondag (19/5) Iran se provinsie Oos-Azerbeidjan besoek om ’n dam saam met Azerbeidjan se president, Ilham Aliyev, in te wy. Die dam is die derde een wat die twee nasies aan die Arasrivier gebou het. 

Die Midde-Ooste beleef ’n krisis weens die oorlog wat in Gasa woed. Die helikopter het neergestort weke nadat Iran ’n hommeltuig-en-missiel-aanval op Israel uitgevoer het in reaksie op ’n dodelike aanval op sy diplomatieke kommissie in Damaskus.

Raisi het president geword in ’n verkiesing in 2021 waartydens geen mededinging toegelaat is nie. Hy het as voormalige hoofregter toesig gehou oor verskerpte onderdrukking van onenigheid in ’n nasie waarvan die jeug teen geestelike heerskappy betoog het.

Raisi was die tweede magtigste persoon in Iran se politieke struktuur naas die opperleier. Die Iranse grondwet bepaal dat, in die geval van die dood van die president, die eerste adjunkpresident by hom sal oorneem met die goedkeuring van die opperleier. Adj.pres. Mohammad Mokhber (68) is opdrag gegee om tussentydse pligte uit te voer totdat ’n verkiesing binne 50 dae gehou word.


Pres. Cyril Ramaphosa, wat as adjunkpresident in November 2015 ’n werkbesoek aan Iran gebring het, het gesê: “Dit is ’n buitengewone, ondenkbare tragedie wat die lewe van ’n merkwaardige leier geëis het. Dit is ’n nasie met wie Suid-Afrika sterk betrekkinge het wat ons in 2023 in Johannesburg as deel van Brics verwelkom het. 

“Ons betuig hiermee ons innige meegevoel met die oorledenes se naasbestaandes en die administrasie van die Islamitiese Republiek Iran,” sê Ramaphosa.

OFM Nuus cg/dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.