On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Pulane
Listen Live Streams

International

‘Ons kan Trump uiteindelik die misdadiger noem wat hy is’

───   14:30 Fri, 31 May 2024

 ‘Ons kan Trump uiteindelik die misdadiger noem wat hy is’ | News Article
Donald Trump. Foto: X

“Trump sal egter dié skuldigbevinding eerder as brandstof vir sy verkiesingsveldtog gebruik.”

’n Jurie in New York het oudpres. Donald Trump Donderdag (30/5) skuldig bevind aan alle aanklagte in sy swyggeldsaak, skaars vyf maande voor die Amerikaanse presidentsverkiesing.

Die historiese eerste misdadige verhoor van ’n voormalige Amerikaanse president het geëindig met Trump (77) wat skuldig bevind is aan elk van die 34 aanklagte van die vervalsing van sakerekords om betalings weg te steek wat bedoel was om die pornoster Stormy Daniels stil te maak.

“Dit is amptelik en dit is buitengewoon. Donald Trump, die 45ste Amerikaanse president en kwaadstoker, is ’n veroordeelde misdadiger. Hy is reeds in ’n siviele saak skuldig bevind aan seksuele aanklagte,” het Michael Day, i news se hoof- buitelandse kommentator, gesê. “Ons kan Trump uiteindelik die misdadiger noem wat hy is.”

Trump word egter nie belet om voort te gaan met sy stryd om pres. Joe Biden in November te ontsetel nie – selfs in die onwaarskynlike geval dat hy tronk toe gaan. Sy prokureur, Todd Blanche, het gesê sy span kyk na 'n appèl “so gou ons kan”.

Trump self het onmiddellik teruggekap. “Ek is ’n baie onskuldige mens,” het hy aan verslaggewers gesê en belowe die “regte uitspraak” van kiesers sal op verkiesingsdag kom. 

Biden se veldtog het ’n verklaring uitgereik waarin gesê word die verhoor het getoon “niemand is bo die wet verhewe nie”. Hulle het bygevoeg “die bedreiging wat Trump vir ons demokrasie inhou, was nog nooit groter nie”.

“Maar aanklaers was gefokus en Trump is in die steek gelaat deur sy prokureurs – ’n wettige ‘B-span’,” het Day gesê. “Die beste regsfirmas in New York wil nie meer naby hom kom nie.”

’n Anti-Trump-beweging het ’n reklamebord met sy gesig en die woord “LOSER” na die Withuis gestuur ná die 2020-verkiesing. Hy het voorheen oorlogsveterane wat hul lewe vir hul land gegee het, SUCKERS en LOSERS genoem . Foto: Mad Dog Pac

Om skuldig bevind te word aan ’n misdryf – wat nog te sê 34 van hulle – is die soort terugslag wat normaalweg enige politikus se ambisies sou kelder. Trump sal egter dié skuldigbevinding eerder as brandstof vir sy verkiesingsveldtog gebruik.

Geen oudpresident of moontlike party-benoemde is al skuldig bevind aan ’n misdaad met die moontlikheid van tronkstraf nie. Hy voer lank reeds valslik aan die vier aanklagte teen hom is deur die Demokratiese Biden georkestreer om hom uit die Withuis te hou.

Daar is ook vier strafregtelike sake teen Trump. Dit sluit in aanklagte wat verband hou met ’n beweerde sameswering om die uitslag van die 2020-verkiesing om te keer, asook sy hantering van geklassifiseerde dokumente nadat hy die Withuis verlaat het. 

Nou kan kiesers hul oordeel begin maak op grond van ’n werklike skuldigbevinding deur gewone mense van New York.

OFM Nuus cg/mc/dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.