On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

International

Namibië verleng omstrede verkiesing tweede keer

───   16:30 Fri, 29 Nov 2024

Namibië verleng omstrede verkiesing tweede keer | News Article
Stemmery in sekere gebiede beperk te midde van ’n sterk vertoning deur die opposisie. Foto: Channel Africa

Die Verkiesingskommissie van Namibië het besluit om 36 stemlokale Vrydag (29/11) en Saterdag oop te hou ná kritiek.

Vroeë uitslae wys die regerende Swapo en die Independent Patriots for Change (IPC) is kop-aan-kop nadat stemme sedert Woensdag in Suid-Afrika se buurland uitgebring is. ’n Sosialemediapeiling deur die dagblad The Namibian dui daarop dat die meeste respondente waarskynlik vir die IPC sal stem, gevolg deur Swapo.

Namibië het Donderdag die verkiesing vir ’n tweede keer verleng weens logistieke mislukkings wat talle kiesers verhinder het om hul kruisings in die presidents- en nasionale verkiesing te trek. 

Opposisiepartye het die regerende Swapo-party, wat in die gesig gestaar word deur sy grootste uitdaging sedert Namibië se onafhanklikwording in 1990, gevra dat die stemtellery gestaak word omdat hulle vertroue in die proses verloor het en weens beweer onprofessionele gedrag.

Swapo word die stryd aangesê deur ’n jonger geslag wat gefrustreerd is deur hoë werkloosheid en blywende ongelykhede. 

Ongeveer 1,5 miljoen mense het geregistreer om te stem in Woensdag se verkiesing, toe die stembusse Woensdag sluit, het talle nog tou gestaan, sommige reeds langer as twaalf uur.

Die verkiesingskommissie het sommige stemlokale tot Donderdag (28/11) oopgehou en ander sal tot Saterdag (30/11) oop wees of toegelaat word om stembriewe te tel. Dit het gelei tot klagtes van opposisiepartye. 

Hulle beskou dit as pogings om stemme in sekere gebiede te onderduk waar die opposisie goed vaar. Die kommissie het verskeie probleme erken, soos ’n tekort aan stembriewe en die oorverhitting van tablette wat gebruik is om kiesers te verifieer.

Christine Aochamus van die IPC het die kommissie daarvan beskuldig dat hy kiesers doelbewus onderdruk en frustreer. 

McHenry Venaani, leier van Popular Democratic Movement, die naasgrootste party in die uittredende vergadering, het die kommissie se hantering van die situasie gekritiseer en aangevoer dat die maatreëls om stembusse oop te hou vir die hele land moet geld.

Teenstanders het Swapo daarvan beskuldig dat hy probeer om stemme vir die opposisie te beperk.

Die waarnemingsending van die Afrika het Vrydag gesê dit lyk asof die verkiesings in ’n omgewing gehou is wat oor die algemeen vreedsaam is en in ooreenstemming met die wetlike raamwerk vir die verkiesings in die land.

Die sending prys die toewyding, veerkragtigheid en geesdrif van die die mense van Namibië wat ondanks hitte en logistieke uitdagings die lang toue aangedurf het om te verseker dat hulle hul demokratiese reg uitoefen.

OFM Nuus mc/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.