On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

International

Rekordhoë kwik voorspel droogtes, oorstromings, veldbrande

───   11:43 Wed, 28 May 2025

Rekordhoë kwik voorspel droogtes, oorstromings, veldbrande | News Article
Foto ter illustrasie: Pixabay

Die wêreld staan op die drumpel van ’n gevaarlike nuwe klimaatstydperk, waarsku die Wêreld- Meteorologiese Organisasie (WMO) in sy jongste verslag.

Volgens hierdie internasionale verslag, wat saamgestel is deur onder meer die Britse weerkantoor, is die kans 80% dat minstens een van die volgende vyf jaar ’n nuwe wêreldwye temperatuurrekord gaan opstel. 

Dit verhoog die risiko van uiterste droogtes, oorstromings en veldbrande wêreldwyd. Vir die eerste keer toon klimaatmodelle ook ’n geringe moontlikheid dat die wêreld nog voor 2030 ’n jaarlikse gemiddelde temperatuur kan beleef wat 2 °C warmer is as voor die nywerheidsomwenteling, iets wat wetenskaplikes as “skokkend” beskryf. 

Meer oorstromings kan in die komende jare verwag word. Foto ter illustrasie: Pixabay

Hoewel die kans klein is (ongeveer 1%), dui dit op die vinnige en versnellende aard van aardverwarming.

Die verslag toon dat die wêreld reeds verlede vir die eerste keer die 1,5 °C-drempel oorskry het op ’n jaarlikse basis. Dié drempel is ’n hoeksteen van die Paryse Klimaatooreenkoms, waarin lande ooreengekom het om aardeverwarming te beperk tot onder 2 °C, en verkieslik tot onder 1,5 °C.

Die jongste vooruitskattings dui op ’n 70%-kans dat die vyfjaargemiddeld van 2025 tot 2029 meer as 1,5 °C bo die vlakke voor die nywerheidsomwenteling sal wees, en ’n 86%-kans dat minstens een van dié jare die drempel weer sal oorskry. 

Die landbousektor sal meer ekstreme weer die hoof moet bied, waaronder droogtes en oorstromings. Foto ter illustrasie: Pixabay

Hierdie syfers beteken nie dat die Paryse ooreenkoms formeel verbreek is nie, aangesien dit gemik is op langtermyn- gemiddelde temperature (oor sowat 20 jaar), maar dit beklemtoon hoe gereeld ons nou sulke warm jare beleef.

Prof. Adam Scaife van die Britse weerburo sê: “Hierdie jongste voorspellings dui daarop dat jare bo 1,5 °C nou algemeen begin word. Ons het een in 2024 gehad, maar ons gaan nog meer beleef. Dit is skokkende statistieke.”

Die WMO waarsku ook teen ongelyke uitwerkings. Hy voorspel Arktiese winters sal 3,5 keer vinniger as die wêreldgemiddeld warmer word, weens smeltende see-ys wat minder sonlig weerkaats. Streke soos die Amasone gaan waarskynlik meer droogtes beleef, terwyl Noord-Europa, Suid-Asië en die Sahel-streek in Noord-Afrika waarskynlik meer reën sal kry, gepaardgaande met verhoogde risiko’s van oorstromings.

Stygende temperature sal lei tot meer veldbrande. Foto ter illustrasie: Pixabay

Dr. Leon Hermanson van die Met Office, wat die verslag gelei het, sê hoewel die komende vyf jaar waarskynlik ’n neutrale El Niño/La Niña-siklus sal hê, is die verwagte gemiddelde wêreldtemperatuur steeds bo 1,5 °C. Dit dui op die toenemende invloed van mensgemaakte aardverwarming.

Ko Barrett, die WMO se adjunk-sekretaris-generaal, sê: “Ons het pas die tien warmste jare tot dusver beleef. Ongelukkig bied hierdie verslag geen teken van verligting in die komende jare nie. 

“Dit beteken ’n toenemende nadelige uitwerking op ons ekonomieë, ons daaglikse lewe, ekostelsels en ons planeet.”

‘Sonder ingryping wag daar ’n warmer, gevaarliker toekoms’

Ten spyte van hierdie waarskuwings, beklemtoon wetenskaplikes dat dit nog nie te laat is om die ergste uitwerking van klimaatsverandering te temper nie. Dit vereis egter dringende en gesamentlike pogings om die verbranding van fossielbrandstowwe soos steenkool, olie en gas te verminder – die hoofoorsaak van aardverwarming.

Die verslag, wat jaarliks deur die WMO uitgereik word, dien as ’n belangrike leidraad vir beleidsrigtings en beplanning in die lig van ’n veranderende klimaat. Dit is duidelik: sonder ingryping wag daar ’n warmer, gevaarliker toekoms vir almal op aarde.

Bronne: The Guardian, Met Office, PA Media

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.