On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 Saturday Nights with OFM
Listen Live Streams

International

Australië bied wêreld se eerste visum weens klimaatsverandering

───   15:40 Fri, 27 Jun 2025

Australië bied wêreld se eerste visum weens klimaatsverandering | News Article
Die Tuvalu-eilandnasie. Foto: veryjerly.wordpress.com

Namate stygende seevlakke klein eilandnasies dwing om skuiling te soek, het Australië met ’n projek vorendag gekom.

Die wêreld hou fyn dop hoe ’n Australiese projek wêreldwye reaksies op klimaatsgedrewe ontheemding beïnvloed.

Meer as ’n derde van Tuvalu se eilandbevolking het reeds aansoek gedoen om Australië se baanbreker-klimaatvisum – die eerste in sy soort. Dit is ’n belangrike mylpaal in internasionale klimaatmigrasiebeleid, berig die BBC.

Tuvalu is ’n eilandgroep tussen Australië en Hawaii. Skermgreep: www.mappery.com

Die Pacific Engagement Visa wat vandeesmaand bekendgestel is, bied permanente verblyfreg in Australië aan burgers van Tuvalu – ’n eilandnasie wat bedreig word weens die stygende seevlakke.

Tuvalu is die wêreld se tweede laagliggendste land en meeste dele is net 5 m bo seevlak. Nasa-wetenskaplikes waarsku teen 2050 kan die meeste van Tuvalu se grondgebied en infrastruktuur onder die huidige hoogwatermerk wees.

Tot dusver is 1 124 aansoeke ingedien wat 4 052 inwoners verteenwoordig. Volgens die 2022-sensus is dit meer as ’n derde van Tuvalu se bevolking van sowat 10 643. Ten spyte van die groot belangstelling is slegs 280 visums per jaar beskikbaar deur ’n lukrake lootjiestelsel wat die program waarskynlik oorweldigend gewild maak.

Die visum bied onbeperkte verblyfreg in Australië, toegang tot noodsaaklike dienste soos Medicare, kindersorgtoelaes en gesubsidieerde onderwys – alles op dieselfde vlak as Australiese burgers. Vrye beweging in en uit die land word ook toegelaat.

Die Funafuti-lughawe. Foto: Tripadvisor 

Aansoeke om die 2025-lotery kos slegs A$25 en sluit op 18 Julie.

Hierdie visum is deel van die Australië–Tuvalu Falepili-ooreenkoms van 2024 wat insluit dat Australië Tuvalu sal verdedig teen natuurrampe, gesondheidkrisisse of militêre dreigemente. Die ooreenkoms erken ook wettig Tuvalu se toekomstige soewereiniteit en staatstatus – selfs al word die land onbewoonbaar weens klimaatsverandering.

Feleti Teo, Tuvalu se premier, loof die ooreenkoms as ’n wêreld-eerste regsbindende verbintenis tot ’n nasie wat deur klimaatsverandering bedreig word.

Het jy al van Tuvalu gehoor? Dit was voorheen bekend as die Ellice-eilande, ’n Polinesiese eilandnasie wat bestaan uit drie rif-eilande en ses ware atolle, berig Travelstart

Hier is vyf interessante feite oor Tuvalu:

  • Klein maar uniek: Tuvalu het net meer as 10 000 mense en is slegs 26 km² groot – die vierde kleinste land in die wêreld.
  • Eilande is versprei oor ’n reusegebied: Die nege eilande – insluitend Funafuti, Nanumea, Nukufetau en ander – lê versprei oor 1 295 000 m² in die westelike Stille Oseaan.
  • Funafuti – Die hoofstad: Dit is die belangrikste eiland met die enigste lughawe en die meeste akkommodasie. Ongeveer 56,6% van die bevolking woon hier.
  • Tweede Wêreldoorlog-spore: Tuvalu het ’n strategiese rol gespeel in die Tweede Wêreldoorlog. ’n Mens kan steeds artefakte en oorblyfsels soos ou aanloopbane, wrakke en bunkers op verskeie eilande sien.
  • ‘.tv’ internetdomein: Die gewilde ‘.tv’ domein behoort aan Tuvalu en genereer ongeveer $2,2 miljoen per jaar – sowat 10% van sy nasionale inkomste.

Tuvalu-oorlogskatte. Foto: www.tuvalu-odyssey.net

Die unieke verdrag sluit bepalings in vir gedeelde veiligheid en klimaatsamewerking en laat Tuvalu toe om sy soewereiniteit oor sy maritieme grense en visvangregte te handhaaf, selfs al word dit bedreig deur stygende seevlakke. 

Die verdrag sluit ook ’n manier in vir Tuvaluaanse burgers om na Australië te migreer vir werk en verblyf. Terwyl Australië ondersteuning aan Tuvalu bied in die bestuur van sy visserye en die bestryding van ongerapporteerde en onwettige visvangs, onder meer deur die voorsiening van ’n patrollieboot, behou Tuvalu beheer oor sy visvangregte en maritieme grense.

OFM Nuus dg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.